Ons het twee nagte by Louise en Eben oorgeslaap. Dit was baie lekker. Ek is altyd benoud as ek by vriendinne gaan kuier maar ons het so gesellig saam gekuier. Louise het verskriklike lekker kos gekook en ek wens nou net ons het nader aan mekaar gewoon. Maar hulle bly so ongelooflik lekker aan die voet van die Outeniekwaberge. ʼn Lieflike groot grasdakhuis met ʼn pragtige tuin. Haar twee kinders is so oulik. Carien was alte bly met die speelmat waarop sy kon speel, want sy het nie so mooi een by die huis nie. Sy was so soet daarop dat ek sterk oorweeg om een te koop. Ek het intussen een vir haar geprakseer uit gedeeltes van haar camping cot.


Louise moes Maandag gaan werk so ons het met Carien bietjie op die plaas gaan stap en toe ʼn draai deur George gery en iewers ʼn lekker brunch geëet. Ineke, saam wie ek na London was in 2009, het destyds vir my gesê die beste manier om ʼn stad (in die geval dorp) te verken. is te voet. En dit is eintlik baie waar. Ons het Slakkie geparkeer en te voet met tripadvisor in die een hand en die stootwaentjie in die ander hand die Moederkerk en die ou slaweboom gaan soek.
Die beste manier om ‘n stad te verken, is te voet.
Die Moederkerk is elke dag oop vir die publiek so ons het soos ware toeriste die kerk van binne bekyk. Dit is ook die kerk waar oud-staatspresident PW Botha se troosdiens gehou is vir sy begrafnis. Jy kan vir R45 ʼn DVD koop met die diens op.

ʼn Paar blokke aan staan die ou slaweboom. Die mite rondom die boom is dat die slawe daaraan vasgemaak is om verkoop te word. Die waarheid is dat die ketting aan die boomstam was om die roller van die tennisbaan aan vas te maak.
Die middag het ek en Marius die Cat walk gaan doen – nogal ʼn ervaring! Marius het dit verskriklik geniet. Ek dink dit is enige toeris se droom, jy mag die leeu streel! Ek het net heeltyd gedink hoe Tineke dit sal geniet. Sy sal waarskynlik al vyf die stappe op die dag wil saamstap.

Die aand het ons so lekker gekuier – Louise het ʼn heerlike hoenderpot op die kole gemaak. Dit was regtig ʼn lieflike kuier. Louise ons mis julle al klaar en ons kom weer kuier!
