Vlieg is nie grappies nie. Dit het twee vlugte uit Johannesburg gevat om ons tot in Nice te kry. Die laaste vlug in so klein skommeltuigie.
My eerste indrukke op Nice lughawe was Mosambiek. Iets het soos Mosambiek geruik en gevoel.
Ons het ons twee-deur Ford Ka by Europe Car gaan optel waar ek vir ‘n oomblik gedink het ek is tog in Holland. Dit was net hollanders waar jy kyk.
Marius het eers ‘n paar keer om die lughawe gery om gewoond te raak aan links-bestuur, regs hou.
Na ‘n paar draaie deur Nice het ons op genade by ons bestemming, ‘n bed and breakfast in die hartjie van Vence uitgekom. Genade, want ons het nie GPS nie en moes werk op my aanwysings wat ek vooraf uitgedruk het vanaf Google Maps.
Die gastehuis in Vence.
Meestal is dit die beste idee om jou kar iewers te parkeer en die omgewing om jou te voet te verken. So het ons die juweel Vence, ‘n klein dorpie in Provence vandag verken.
Vence is ‘n middeleeuse dorpie wat in die berge gebou is. Omring met ou stadsmure en regte poorte lei
verskillende stegies jou na kunsgalerye, restaurante en regte egte middeleeuse fonteine met vars fonteinwater.
Vence is werklik ‘n juweel. Middagete het ons by ‘n restuarant op die stadsplein geniet. Die gastehuis-eienaar noem dit eg provinsiaal, medieval – die manier hoe hulle nog hier kuier. Niemand eet vinnig nie. Dit is ‘n lank uitgerekte kuier.
Na ‘n vinnige middagslapie het ons vanaand die ou-dorpie (Vieux Vence, binne die middeleeuse mure) gaan verken. My mond het soms letterlik oopgehang. Marius se woorde: Ek dog dit lyk net so in flieks het omtrent my gedagtes opgesom. Dit is werklik ‘n belewenis. Die middeleeuse straatjies en geboue laat my verbeelding met my weghardloop. Van hoe dit moes gewees het. Ons reisgids (Lonely Planet, Provence & The Cote D’Azur) vertel gedeeltes van die ou-dorp dateer so ver terug soos die 13e eeu.
Vanaand se ete by Restaurant La Cassolette was ‘n gastronomiese hoogtepunt. DIe eienaars kan skaars Engels verstaan. Ons het raai-raai van die menu afbestel volgens woorde watons hier en daar verstaan.
Die geregte was dus ‘n fantastiese verrassing. En ongelooflik lekker. Ek het Fromage reg herken, ‘n heerlike kaasgereg.
Ek dink die lekkerste was om te sit en net die atmosfeer op te slurp. Daai prentjies van mense wat op ‘n terras sit en by kerslig luidrugtig kuier – dit bestaan.
Die kinders wat touspring op die plein en vroue wat uit vensters leun om ‘n ogie te hou – wat ‘n lewe.
Ek is spyt ons kon nog nie vandag die Matisse Kapel besoek nie. Henri Matisse se laaste groot werk.
Hopelik kan ons more St Paul de Vence ook bietjie verken.