Almal gee raad voor jy op vakansie na Europa vertrek. ‘n Hele paar mense het gese dit is onnodig om verblyf vooraf te bespreek, veral omdat ons nie in die piektyd (Julie en Augutus) reis nie. Dit is egter minder lekker wanneer jy by die toerisme kantoor in Aix-en-Provence aankom en die hele stad vol is agv ‘n reuse kongres 🙁
So tussen al die lekker was daar bietjie minder lekker – dit was ‘n enorme gesukkel om verblyf te kry. En met enorm bedoel ek vyf ure se op en af ry. Ons het toe besluit om aan te ry na Marseille om daar ‘n hotel te soek. In die Mcdonalds in Marseille sien ek ‘n email van iemand net buite Aix-en-Provence wat wel vir ons verblyf het. Ons het teruggery, verskriklik verdwaal in die donker, maar darem ‘n bed gehad om in te slaap.
Marseille is ‘n enorme hawestad. Baie industrieel, te veel mense en niks waarvan ek hou nie. Dit is groot, lomp, vuil en te veel mense. Ek verkies die klein middeleeuse dorpies, die mense is vriendeliker en jy ervaar die land beter.
Om dieselfde drama as die vorige aand te voorkom, het ons eers verblyf gesoek en toe verder gereis vir die nag. Ons was vinnig suksesvol – ‘n eenvoudige plekkie in Antibes. Ons weet nie presies waar dit is of wat daar te sien is nie, maar dit is aan dit is naby Nice. Gerieflik aangesien ons Vrydagoggend in Nice moes wees.
Ons ry steeds die roete wat Caroline van die Avignon gastehuis vir ons aanbeveel het. Die pad tussendeur na Frejus en St Raphael. Daarna ry jy kuslangs tot in Nice. Sy het nie gejok nie, my mond het fisies oopgehang. Die omgewing was prentjiemooi. Die rooi berge en blou-blou see was ‘n pragtige kontras.
Die beste raad wat ons van die locals kon kry was om van die snelwee af te wyk en die kleiner paadjies te volg, jou reistyd is dubbel so lank, maar dit is oor en oor die moeite werd.
Nog ‘n paar kilometer verder het die Franse Riviera ons verstom gelaat. Dit bestaan toe nie net in flieks nie. Un.be.lie.va.ble.
Die seilskepe, die mense in ontwerpersklere, vroue in hoehakskoene langs die strand. Cannes was vir my uit ‘n tydskrif – Winkels soos Prada…. langs die strand.
Die kus by Antibes
Vandag was ook ‘n baie spesiale dag want M is 30! Ons het spesiaal gaan uiteet om dit te vier (asof ons nie elke dag uit eet nie, maar vir ‘n slag het ons probeer om nie te veel na die prys te kyk nie).

