Dit is ons tweede sleep avontuur. Díe keer hak ons die karavaan vir ‘n groot skoonfamilie-wegbreek na die Maluti berge in die Vrystaat. Ons slaan tent op saam my man se ouers en vier van sy sibbe by die Glen Reenen kamp in die Golden Gate Highlands Nasionale Park aan die voet van die Maluti bergreeks. Dit is in die Noord-Oos Vrystaat geleë en sowat 20km buite die baie bekende
kunstenaarsdorp, Clarens.
Dit is my tweede besoek aan die park. So paar jaar terug het ek as
deel van ʼn Nasionale Persklub exco Lekgotla hier kom beraad. Marius se
familie het baie vakansies hier deurgebring alhoewel hy sê niks kom
vir hom bekend voor nie.
Ons het Vrydagoggend vroeg gery (na ‘n draai omdat ek by beste baadjie
twee aande terug by emBARgo vergeet het). Dit is net onder vyf ure se
ry vanuit Pretoria, maar met Carien moes ons twee keer stop vir
afleiding. Ver ry is nie haar gunsteling tydverdryf nie.
Ek het onlangs geblog oor die Oos-Vrystaat al ‘n stukkie van my hart
gesteel het… die vlaktes met yl populiere, mielielande… dit lyk
net anders as Gauteng.
Die Oos-Vrystaat het ‘n stukkie van my hart gesteel… vlaktes, populiere en mielielande…
Ons was net na middagete by die kampterrein. Die kamp was nog leeg en
ons moes dubbel so hard dink waar sal die lekkerste staanplek wees.
Tent opslaan was vinniger as die vorige keer te danke aan my pa se
kleurkode-skema wat hy vir ons tentpale uitgewerk het.
Die omgewing is asemrowend, maar dit was koud met ʼn ysige windjie wat
gewaai het. Ons het vroegaand al gebraai en net na ses was ons al
binne in die karavaan waar ons teen die ysige koue geskuil het. Toe
Carien net voor agt gaan slaap volg ons haar voorbeeld, dankbaar vir ʼn
beskutte karavaan.




O ek is ook mal oor Clarens en Golden Gate. En daai berge!