Koffie in Clarens (Golden Gate II).

Die Glen Reenen ruskamp is so 17 km buite Clarens. Na ʼn lekker ontbyt in die kamp ry ons Clarens toe. Dit is ʼn pragtige kunstenaarsdorpie wat in die afgelope paar jare ontpop het in ʼn paradys vir Gautengers wat hierheen ontsnap vir ʼn naweek. Kunsgalery, boetieks en snuffelwinkeltjies is volop. Dit is Saterdag en dit was besig. Carien het haar oë uitgekyk vanuit haar stootwaentjie en met tye het sy en haar pa my gelos om te drentel terwyl hulle mense kyk.

Restaurante en koffiewinkels is ook volop, maar met Carien moes ons iets kies waar ons weet sy bietjie ruimte sal hê vir woel. The Artist Café in die Windmill Centre was perfek hiervoor*. Met die instap word sy ook verwelkom en toe ons gaan sit bring hulle ʼn kinderstoel en ʼn inkleurprent met kryte. Oulik! Buite is daar verskeie ou plaasimplemente wat omskep is in speelgoed vir kinders. Groot pret.

Dit was ʼn koue oggend, so ons het binne gesit. Die kos is fantasties en die koffie is heerlik. Die diens was puik en ons het selfs weer op die terugpad hier gestop vir middagete voor ons die lang pad aangedurf het. In die week het ek ook met my skoonfamilie hier ʼn koppie koffie kom drink. Ek dink ek sal The Artist Café beslis aanbeveel as ʼn kindervriendelike restaurant, tog steeds eklekties en kunstig (lees: dis beslis nie Spur nie).Hier is my review op Tripadvisor.

20141004_104837

Ek was lus om Marius se nuwe Cadac broodpan uit te probeer en het ʼn bakkery gaan soek vir brooddeeg. Ek het heerlike deeg gekry by The Millery Bakery. R15 vir 1kg brooddeeg. Dit was vars. Let wel: moenie (!) honger hier instap nie, die brode en terte ruik verruklik en die versoeking is groot.

Terug in die kamp was dit vinnig bitter koud. Ons het vroeg vuur gemaak, brood gebak (heerlike geproe!) en teen 18:00 was ons binne in die karavaan omdat dit so koud was.

20141004_170217
Eerste broodbak poging. Die tweede een was meer suksesvol.

blog 20141004_192220

* Dit is ‘n onafhanklike resensie – ons het self vir alles betaal.

Recommended Articles

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *