Huisruil vakansies: hoe werk dit?

Die fliek The Holiday, met Kate Winslet en Cameron Diaz het huisruil so romanties en idillies laat lyk. Die karakter Iris het haar klein kothuis in ‘n klein dorpie in Engeland geruil en ‘n enorme herehuis in Los Angeles gekry. Boonop het albei karakters die man van hul drome ontmoet tydens hierdie oefening.

Huisruil behels dat gesinne hul huise ruil met ‘n gesin in ‘n ander land.  Baie mense ruil hulle ook motors en versorg selfs die troeteldiere. Sommige gesinne ruil hul vakansiehuis- of woonstel sodat dit enige tyd van die jaar beskikbaar is. Die grootste voordeel is dat jy gratis akkommodasie in die land van jou keuse het.

Maar is dit in werklikheid so idillies en ideaal? En presies hoe werk dit?

ʼn Paar jaar gelede het ek vir ʼn artikel in Vrouekeur met ‘n paar persone gesels wat reeds ‘n suksesvolle huisruil agter die rug het en uitsien na hulle volgende vakansie met gratis verblyf.

Die meeste mense wat huisruil oorweeg sluit aan by ‘n organisasie se webwerf. Op die webwerf word die huise wat wêreldwyd beskikbaar is gelys. Jy lys jou eie huis met foto’s en beskrywings asook wanneer jy beskikbaar is vir ‘n ruil. Sommige mense sê ook watter lande hulle graag wil besoek.

Magriet Botha* van Kaapstad het al drie keer ‘n huisruil gedoen. “Ek is baie lief daarvoor om te reis en het familie en kinders wat oorsee woon.”

Sy sê die vliegtuigkaartjie is net een deel van die beplanning van ‘n oorsese reis. Haar seuns se blyplekke is baie klein en alhoewel sy nie omgee om vir ‘n nag of twee so by hulle te bly nie, is dit nie ideaal nie. “Huisruil is ‘n baie goeie en ekonomiese alternatief.”

Op die vraag of dit nie vreemd is om in iemand anders se huis te woon nie antwoord sy: “Die feit dat ons albei bereid is om dit weer te doen sê dat ons nie weird voel nie.”

“Dit is so lekker om ‘n tuis basis te hê waar ons kinders kan kom eet en ons ons vriende kan onthaal. Dit is ook ‘n wonderlike manier om die lewe in ‘n ander land te sien, by hulle plaaslike winkels inkopies te doen en die restaurante en strande so te leer ken.”

Sy sê meestal sluit die huisruil ‘n familiekar in en kan hulle op kort uitstappies gaan en soms selfs oornag-uitstappies.

Sy sê self het hulle nog nooit ‘n probleem met hul kar gehad as hulle tuisgekom het nie. “Alles was nog perfek.”  

Magriet sê sy sal dit beslis weer doen. “‘n Mens moet onthou dat die mense op die lughawe arriveer met slegs hulle tasse, hulle gaan nie met al hulle besittings in jou huis intrek nie. Jy hoef nie vir hulle ‘n huis vol leë kaste te los nie.”

Plaaslike huisruil in Suid-Afrika

Susan Du Preez*, het plaaslik in Suid-Afrika huise geruil met ‘n gesin in Ballito.Sy sê haar skoonsuster het huisruil eenkeer aan haar genoem omdat hulle ‘n huis wou ruil vir ‘n vakansie in Australië.

Sy sê hulle het baie welkom by die huis in Ballito gevoel. “Ons gasgesin het vir ons ‘n bottel wyn in die yskas gelos om koud te word en ‘n geskenkie vir my dogter, ek het dit gedink dit is so sweet.” 

Vir haar was dit ‘n briljante ervaring. “Dit het regtig goed gewerk vir ons aangesien die familie met wie ons geruil het, ook jong kinders gehad het. My dogter het haar eie kamer gehad om in te bly vol met speelgoed en sy was mal daaroor. Dit het ook gehelp omdat ons nie nodig gehad het om speelgoed vir haar saam te vat nie,” sê sy.

Susan en haar gesin het die familie ontmoet op die dag wat hulle aangekom het. “Hulle het vir ons die huis gewys, hoe alles werk en ons het hulle huisbediende vir die week gehou, wat ook baie handig was omdat sy geweet het hoe alles werk en waar alles was.”

Sy verduidelik hulle het die ruil deur die webwerf gedoen en toe persoonlike eposse vir mekaar gestuur. “Ons het ook telefoonnommers geruil sodat ons ‘n paar “touch base” geselsies kon hê voor ons geruil het.” Om vooraf genoeg te kommunikeer is een van die belangrikste punte wat deur al die organisasies aanbeveel word. Sodoende kan jy jou gaste leer ken voordat hulle in jou huis woon of jy in hulle huis.

So, hoe doen jy dit?

Daar is ‘n hele paar organisasies wat die diens aanbied. Nadat jy aangesluit het by ‘n webwerf, lys jy jou huis met foto’s en inligting. Jy kan ook noem waarheen jy graag wil gaan en waar jy sal wil huise ruil. Indien daar ‘n huis is waarmee jy graag sal wil ruil kan jy die lid kontak en kyk of hulle sou belangstel.

Indien jy besluit om ‘n aanbod te oorweeg kan jy per e-pos korrespondeer met die familie en bietjie meer van hulle leer voordat jy ‘n besluit maak.

Jy moet betaal om by hierdie webwerwe aan te sluit, maar omdat al die lede moet betaal en foto’s van hul huise moet opsit kan jy gerus wees dat hulle ernstig daaroor is om huise te ruil.

Meeste organisasies sê op hul werf dat as jy nie ‘n huisruil in die eerste jaar van lidmaatskap gekry het nie is jou tweede jaar se lidmaatskap gratis.

Hier is nog ‘n paar algemene wenke.

  • Veiligheid: Die webwerf www.homeexchange.com verseker mense dat hulle in 14 jaar nog geen gevalle gehad het van diefstal, vandalisme of mense wat opdaag en geen huis vind nie. Dit is wyslik om persoonlik kontak met jou ruilgesin te maak en mekaar te leer ken voordat jy ruil. Jy kan jou juwele en baie kosbare besittings gaan toesluit, maar die res los jy net so. Jy wil hulle koffiemasjien gebruik, so los jou masjien vir hulle.
  • Vra vir verwysings van vorige huisruilgesinne. So kan jy by ander mense hoor hoe hulle hierdie gesin ervaar het.
  • Onthou dat verskillende lande verskillende standaard huise het. Huise in Suid-Afrika is baie groot vir die Europeërs aangesien hulle in baie kleiner huise woon.
  • ‘n Gesin wat na Perth geëmigreer het mag dalk juis ‘n gewone huis in Pretoria of Bloemfontein wil ruil sodat hulle oor Kersfees naby hulle familie is sonder om op hulle familie se nekke te lê.
  • Internasionale ruil mense gewoonlik ‘n huis vir een tot drie weke op ‘n slag.
  • Jy kan met ‘n familielid of vriend wat jou huis goed ken reël om die gaste by jou huis te ontvang sodat hy vir hulle kan wys hoe alles werk. Indien die gesin in die tyd iets wil weet kan hulle hom kontak. Jy kan selfs reël dat hulle by die lughawe opgetel word.
  • Wees eerlik oor jou huis. As jy troeteldiere het, noem dit.

*Aangesien ek hierdie artikel ʼn paar jaar gelede vir Vrouekeur geskryf het, het ek besluit om vir die hergebruik van die artikel besluit om die persone se name te verander. Die name is dus skuilname.   

Recommended Articles

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *