Inhaca eiland – ‘n juweel aan die Oos-Afrika kus

Inhaca eiland is ‘n subtropiese eiland net in die Oos-Afrika kus, dit is deel van Mosambiek en net bietjie meer as 50km vanaf Maputu. In 2010 wen ek deur die Getaway tydskrif ‘n paar nagte op die eiland. Alles was ingesluit, en dit was ‘n ongelooflike ervaring.

Inhaca eiland

Iemand vra my verlede week of ek ooit geblog het die reis na Inhaca eiland. Iewers in my geheue lui iets ‘n klokkie en ek gaan krap in my argiewe. En sowaar, ek het iets geskryf, maar dit nooit as ‘n blog gepost nie. So hierdie is ‘n baie laat plasing van ‘n ongelooflike reis na ‘n klein Mosambiekse eiland, Inhaca. Ek het besluit om die minimum te verander aan hierdie notas aangesien ek dit nooit destyds verwerk het in ʼn artikel nie. Ek hou dit so sodat ons kan onthou hoe dit was.

Ons het besluit om die vlug na Maputo te skip en eerder met die kar tot daar te reis. Dit was heerlik, maar dit was agt ure lank.

Met die eerste draai deur die Lebombo berge lyk die eentydse Portugese kolonie vir eers nie veel anders as Suid-Afrika nie, maar na ‘n paar kilometer begin die kenmerke stalletjies met sakke houtskool langs die pad opduik.

“Dit is Afrika. Bokke, beeste en ontsaglik baie mense wat oor die pad loop.”

Na sowat 100 km bereik ons die buitewyke van Maputo. Dit is Afrika. Bokke, beeste en ontsaglik baie mense wat oor die pad loop. Ons kom in die donker aan en sonder ʼn GPS, en veral sonder Google Maps is dit rondtas in die donker. Alhoewel Marius vooraf aanwysings uitgedruk het raak ons die pad byster. Om een of ander wonderlike rede vind ons ‘n straatnaam wat ooreenstem met ons uitgedrukte kaart en kan ons soos kaartlesers van ouds ons rigting vind na die Pestana Rovuma, waar ons die nag oornag.

Dit is ‘n netjiese hotel. Eintlik is dit ongelooflik spesiaal om hier in die hart van die middestad te slaap. Om jou sien jy die vervalle derde wêreld land, tot onlangs nog gewikkel in ʼn burgeroorlog, en tog hier staan nog ‘n paar ongeskonde kerk en mooi geboue.

Vrydagoggend vroeg gaan swem Marius in die dakswembad. Van die hotel af is ons met ʼn shuttle na die lughawe vervoer. Dit was ʼn ervaring. Ons het nie vliegtickets nie, niks, en ons los ons bagasie in ʼn klein kantoortjie met die opdrag om ʼn Portugese bier te gaan drinkk, hulle sal ons roep as hulle gereed is om te vertrek.

Ons vlieg in ʼn baie klein 8-seater met twee props (skryf Marius). Eers vlieg mens oor die dorpies – sand paaie, sien die plantasies en huisies onder jou. Dan die helder see en eweskielik is daar die eiland voor jou – absoluut amazing. Jy kan ook per boot vanaf die Delagoa baai uit die Maputo Hawe oorvaar na die eiland.

Inhaca is ongelooflik mooi. Blykbaar is die eerste nedersetting in 1870 gevestig. Die eiland word sedert 1994 weer deur die inwoners self regeer.

Die see is ongerep. Op pad na die oord ry mens deur die village (moenie ‘n Europese village in jou kop hê nie). Ons het die beroemde Lucas Restaurant gesien, en wil graag daar iets gaan eet.

Ons was net betyds vir ‘n snorkelsessie. Die boot het ons so 5km uitgevat na ‘n koraalrif, alhoewel dit baie lekker was, ons het heelwat mooi visse gesien, was die sigbaarheid van die water nie baie helder nie. ‘n Storm het gebroei oor die see.

Die volgende oggend het ons deur die bitter klein village gaan stap. Daar is ‘n plaaslike superette wat enigiets verkoop van seep, tot tamatiesous en klere asook skoene. Daar is ook ‘n plaaslike restaurant, Lucas, ‘n redelik bekende restaurant.

Beplan jou naweek deeglik. Daar is baie dinge om te doen. Ons het nie eers by die helfte van die doen-dinge uitgekom nie.

Ek wou graag nog die 4×4 uitstappie na die vuurtoring aangepak het, maar tyd het ons ingehaal.

Die restaurant bedien heerlike maaltye en ligte etes deur die dag. Jy moet net jou kos met ‘n skerp oog dophou, want die kraai wil deel in die vreugde. Hulle het ‘n paar gaste se kos weggedra.

Op ‘n helder dag kon ons Maputo se wolkekrabbers op die horison sien. Bedags het ons net luilekker langs die swembad gesit en boeklees en swem.

Nabetragting baie jare later: Dit was werklik ʼn ongelooflik wegbreek. Mosambiek het lankal ons harte gesteel en met hierdie vakansie het ons besef ons buurland is ʼn juweel.  

Die Pestana Inhaca Lodge waar ons gebly het, is tans gesluit, helaas, maar tog vir my eie herinneringe wil ek hierdie saam met die foto’s plak. Ek weet vir ons staan dit uit as een van die opwindendste plekke wat ons ooit besoek het. Die interessante aspek van hierdie spesifieke blogpost is dat die meeste deur Marius geskryf is, ek het net hier en daar my gevoelens en gedagtes bygevoeg en dit effens verander.

Recommended Articles

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *