Ek sukkel om tyd te maak vir blog, maar uit ervaring het ek al geleer ʼn mens vergeet jou reise as jy nie daaroor skryf nie. Ons vakansie in Australië en my toer na London, Amsterdam en Parys is vae herinneringe omdat ek nie daaroor geskryf het nie. Dus probeer ek tog elke vakansie tyd maak om iets te skryf oor ons ervarings.
Ons travelling het ʼn totale nuwe dimensie betree. Om te reis met ʼn baba is ʼn aanpassing. Om te pak vir ʼn baba is soos ʼn groot trek. Maar sover gaan dit baie goed. Sy is meestal redelik soet. Sy het beslis die meeste klere van ons al drie by haar.

Ons het by ʼn pragtige gastehuis net buite Bloemfontein oorgeslaap. Ons het in die verlede al gereis sonder om vooraf akkommodasie te bespreek, en ons het geweet met ʼn baba is dit ʼn redelike risiko wat ons vat, maar ons het dit maar gevat. Gelukkig vir ons het ons ʼn plekkie gevind. Ek het op bookings.com gekyk wat is beskikbaar en lyk oulik en ons het eenvoudig na die gastehuis gery en aangeklop. Die plek Olive Hill Guest Lodge kan ek regtig aanbeveel. Tannie Linda sê dit is nie elke dag wat daar gaste net opdaag by die hek nie. Sy vertel sy het haar pensioen gevat en die gastehuis begin, maar sy sê sy het nog nooit in haar lewe so hard gewerk soos nou nie.

Die tweede skof van Bloemfontein tot Groot Brak was baie lank – ons het 11 ure gery oor 800km met hoogstens 2 ure se stop tussen in. Ons stop by ʼn piekniekplek net buite Graaff Reinet – en besef toe ons het in 2008 oor op presies dieselfde plek gestop vir middagete. Marius vertel vir my Graaff Reinet was ʼn myndorpie en dit is waar die naam vandaan kom. Die naam, volgens hom, vertel hoe Reinet moet grawe. Dit is natuurlik loutere snert, maar ons het lekker gelag. Die waarheid is hier: Graaff-Reinet.

Die lang ry was die moeite werd want Louise en Eben het ons hartlik verwelkom. Carien was nogal moeilik na die baie ure op die pad, maar gelukkig het hulle self twee pragtige kinders en het verstaan.


Te oulik , carien lyk lekker moeg daar . Xxx