As kind het ek ʼn hele paar vakansies in die Nasionale Dieretuin in Pretoria spandeer. Ons het vriende van die dieretuin lidmaatskap gehad en elke vakansie is ons sak en pak met ons ouers en meestal ook ʼn Oupa en ʼn Ouma dieretuin toe. Op 12 doen ek en Liza albei die junior natuurbewaarderkursus. Dit was vinnig duidelik dat dit vir my lekker was, maar vir haar was dit instink, passie en beslis baie lekkerder as vir my. Die eerste keer toe ons die varkhokke moes skoonmaak was ek klaar met die dieretuin se vakansiekursusse…
In die afgelope paar jaar was ek slegs in die dieretuin wanneer ek ʼn storie moes doen oor ʼn nuwe babadiertjie wat gebore is of persklub- en jaarafsluitingfunksies. Maar noudat ek ʼn kind het sal dit dalk verander.
Ons het in die afgelope skoolvakansie vir Carien en ons vriende se kinders uitgevat op ʼn uitstappie na die dieretuin. Dit was ʼn heerlike dag. In die afgelope twee dekades is die dieretuin verander in ʼn pragtige dieretuin met mooi hokke vir diere. Waar ʼn mens voorheen na diere in sementhokke gestaar het, kan hulle vandag sover moontlik in ʼn nabootsing van hul natuurlike habitat leef.
Dit was ʼn koue Saterdag en tog was die dieretuin baie besig. ʼn Weeksdag sal dalk ʼn beter opsie wees vir ʼn besoek. Die gholfkarretjies maak die dieretuin toeganklik vir ouer persone en mense wat nie so ver wil stap nie, maar ons het sommer al op pad vir die kinders verduidelik ons gaan stap. Ek het ʼn piekniekmandjie gepak met heerlike broodjies en peuselhappies, dit spaar ekstra geld en maak dit gesellig. Gelukkig het Dalene saamgekom, want vier kinders dophou tussen so baie mense was soms ʼn uitdaging. Dalene en die drie groter kinders het dit op die kabelkar gewaag en dit oorleef.
Dit is duur, maar ja, wat is nie duur nie! Ons oorweeg nou selfs ook ʼn vriende van die dieretuin lidmaatskap, dit werk baie goedkoper uit.
Tans (2014) is die toegangsfooie R75 ʼn volwassene en R50 vir kinders (2-15).
Hier is ʼn paar kiekies van die lekker dag, niks dier-foto’s, maar dis tog die mense wat dit interessant maak.









