Wenke vir ‘n vakansie met vriende

A journey is best measured in friends, not miles.

Dit klink só idillies: ʼn lekker vakansie saam met vriende. Maar, wees gewaarsku, dit kan die einde van jou vriendskap beteken. ʼn Vakansie kan ʼn groot beproewing vir selfs ʼn baie hegte vriendskap wees. Dink mooi voordat jy ʼn vakansie saam jou vriende beplan. Ons het al ʼn paar lekker vakansies saam vriende gehad, maar ook een of twee noue ontkomings gehad. Uit ervaring deel ek graag hierdie wenke met julle.

PicMonkey Collage

Beplan.
Beplan jou vakansie mooi. Maak seker jy weet hoe jou akkommodasie lyk. Doen vooraf navorsing oor die area en beplan uitstappies. Laat almal voorstelle gee van plekke wat hul wil besoek of dinge wat hul wil doen. Só kan ʼn mens ʼn vakansie beplan wat vir almal lekker is. Jy is dalk nie so opgewonde om die voëlpark te besoek nie, maar jy weet oormore gaan julle met die kabelkar teen die berg op – jou keuse. En maak tog seker hoe jou akkommodasie lyk. Moenie jou vriende net blindelings volg nie. Hulle hou dalk van ʼn tented camp, maar jy gril jou dood. Maak seker hoe dit lyk. Ons het een jaar 2km voor die eindpunt gehoor daar is nou slegs een chalet in plaas van die beplande twee chalets. Oeps!

DSCN3068 smaller
Jou eie vervoer.
Ons het geleer dit is ʼn deal-breaker. Jy móét jou eie kar hê. Jy moet onafhanklik wees sodat wanneer julle gou alleen kafee toe wil ry jy nie jou vriende se kar hoef te vra nie. Soms wil mens iets alleen gaan doen – jy kort jou eie kar. En dan is daar niks so lekker soos gesels in die kar nie. En soms is dit lekker om by jou reisgenoot af te pak oor jul medereisigers. Sonder enige kwade gevoelens. Die bietjie ontlading sorg dat jy weer met nuwe energie verder kuier as julle weer by jul vriende aansluit.

DSCN0850
Eie ruimte.
Dit is ook nogal belangrik. As julle kampeer sorg dat julle ʼn eie tent het, of ʼn eie chalet as dit by ʼn oord is. Indien julle ʼn vakansiehuis deel, maar baie seker dit is groot genoeg vir die hoeveelheid mense wat daar is. Dit kan ʼn uitdaging wees aangesien party mense floreer op al die mense om hulle, maar ander (soos ek) het soms nodig om net alleen op die bank te sit en boek lees.

Eie tyd.
Dit is heerlik om saam te kuier, saam kos te maak, saam te braai en natuurlik saam plekke te verken. Ons het geleer dit is lekker om soms in ʼn vakansie iets alleen te doen. Tydens ʼn vakansie waar ons ʼn kar gedeel het om geld te spaar het ons ʼn keer dorp toe gestap terwyl ons vriende gery het, of ʼn middag gevat en rondgedrentel in die area sonder hulle. Tyd alleen is nodig. As jy voel jy het ʼn breek nodig, gaan slaap een aand vroeg. Neem tyd vir jouself om te ontspan. Niemand wil ʼn dikbek pel op vakansie hê nie.
DSCN4655 smaller
Rus.
Iets wat vir ons baie goed werk is om rusdae in te werk. Na ʼn intensiewe dag van rondry en plekke verken sal ons ʼn dag van rus inwerk waar ons laat lê, langs die swembad ontspan, boek lees en rustig verkeer. Dit help om jou batterye te herlaai. ʼn Vakansie waar jy baie dinge beleef en doen kan nogal uitputtend wees en selfs oorstimulerend.

Some you win. Some you lose.
Almal hou nie van alles nie. Aanvaar dat jy soms goed moet doen wat minder lekker vir jou is, want soms doen jou vriende dinge wat vir hulle weer nie so lekker is nie. So tref mens maar kompromieë.

DSCN2988 resize
La Fayette Galleries is dalk nie jou idee van pret in Parys nie, maar vir ons girls was dit!

Versigtig met geld
Geld is die wortel van alle kwaad, net so by vakansies! Ons vind dat ʼn gesamentlike beursie goed werk. Almal sit R500 in die beursie en daarvan word petrol, kos, noodsaaklikhede vir die huis aangekoop. Wanneer dit op raak, sit almal weer ʼn gelyke bedrag in. In restaurante is dit beter dat elkeen vir homself betaal aangesien die een meer eet as die ander. Stel een persoon as boekhouer. Die persoon moet letterlik elke uitgawe, elke fooitjie en elke uitstappie se uitgawes opskryf en byhou.

Kies jou reisgenote versigtig.
Net omdat julle beste huisvriende (of familie) is beteken nie julle gaan vir twee weke saam in ʼn huis kan oorleef nie. Probeer eers vir ʼn naweek saam wegbreek voordat julle Afrika verken of baie geld spandeer op ʼn kulturele reis deur Europa. Ons het geleer met sommige vriende val mens in ʼn gemaklike ritme, met ander vriende spreek mens reguit af hoe julle mekaar gaan behandel.
As jy mooi beplan en eerlik met jou vriende is, kan ʼn mens ʼn fantastiese vakansie met vriende ervaar.

Dankie aan al ons reisgenote met wie ons al heerlike vakansies beleef het.

Laat weet as julle nog wenke het wat ons ingedagte kan hou vir toekomstige vakansies…

Recommended Articles

1 Comment

  1. hoi, moes jy artikel maak? ja dis maar mooi beplan met dinge. As ek ooit weer saam met iemand sal gaan dink ek wel dat ek my eie geld trek en doen. ons het mos gedeel met my skoonouers maar dit was nie so handig 😊 mwa liefs mayke

    Verzonden met Windows Mail

    Van: Poskaarte
    Verzonden: ‎woensdag‎ ‎14‎ ‎mei‎ ‎2014 ‎14‎:‎55
    Aan: mayke harink

    tanyadevente posted: “A journey is best measured in friends, not miles. Dit klink só idillies: ʼn lekker vakansie saam met vriende. Maar, wees gewaarsku, dit kan die einde van jou vriendskap beteken. ʼn Vakansie kan ʼn groot beproewing vir selfs ʼn baie hegte vriendskap wees. Din”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *