Die Oos-Vrystaat met haar yl populiere, kersiebome en groen mielielande ‘n stukkie van my hart kom steel.
Ek het al geleer as jy nie dadelik jou blog post sodra dit klaargeskryf is nie, doen jy dit nooit nie.
Maar al is dit nou ‘n maandlater gaan ek tog hierdie een post.
Ons het die week voor Kersfees by Gus en Liza in die Oos-Vrystaat gaan kuier.
Voor 2011 het ek nie die Oos-Vrystaat geken nie. Ek was een keer by Golden Gate, maar dit was dit.
My sussie Liza woon saam met haar man op die plaas Moketsi, net voor Clocolan. Ons is hier op die plaas vir ‘n paar dae. Die plaas is net duskant die pragtige Korannaberge. Liza is natuurlik net bly om Carien te sien, sy word vreeslik bederf.

Vrydagoggend was Gus nog in Bloemfontein vir werk so ons vier het uitgery na een van die padstalle in die omgewing. The Cabin is ‘n lieflike padstal op pad tussen Clocolan en Ladybrand. Ons het heerlike pannekoeke gaan eet en in die winkeltjies rondgesnuffel.
Dit is ‘n puik padstal en ek sal dit beslis aanbeveel vir enige reisigers. Liza het vir my die mooiste eseltjie gekoop, ons het albei baie idees met ons oë gesteel. Hulle diens is flink en kos die moeite werd.
Liza se huis het ‘n groot stoep waarop ons kuier en elke aand ‘n vleisie braai. Hul stoep kyk uit oor ‘n vallei en reg voor die huis wei Springbokke en Njalas. Die tarentale kom elke middag verby en roep met hul hees skrou vir Liza om sade te gooi. Die Njalas eet appels en daar is selfs een klein baba Njala wat versigtig rondtrippel. Saans hoor ons jakkalse huil en snags maak die hiënas en leeus ons wakker. Liza wys vir Carien die tarentale, die bokkies en voëls. Sy het ‘n spog groente- en kruietuin. Kortom, dit is regtig lekker hier.
Saterdag het ons besluit om die ander padstal, Constantia Padstal te beproef. Die padstal verkoop produkte van die Constantia kersie-plaas. Dit het ‘n lekker winkel wat allerhande snuisterye verkoop. Hul restaurant is nie so vinnig soos The Cabin nie en die arme tannie agter die toonbank moes bontstaan om die ry vakansiegangers te kan help.
Dankie Liza en Gus vir jul gasvryheid. Ons kom weer.




Tanya, baie oulik, lyk my julle het geniet 🙂 . En jy en Liza lyk pragtig. liefs xxxxx Mayke
Ag dankie!! Xx Dit was so lekker om jul by ons te hê. Dit voel al baie langer as ‘n maand terug!!