Daar is niks so lekker soos om die karavaan te hak en wildtuin toe te gaan nie. Ses nagte kampeer in Berg-en-Dal kamp en ses nagte in Lower Sabie kamp. Om in Lower Sabie te kampeer moet mens gewoonlik maande van te vore plek bespreek. Marius was egter vasberade en het bietjie vir bietjie nagte bymekaar gemaak.
Maar ons eerste stop – Berg-en-Dal kamp. Dit is ʼn nuwer wildtuin kamp (sedert 1984), bekend vir sy rou baksteenhuisies wat verder uit mekaar gebou is om gaste meer privaatheid te bied.
Ons ry Maandagmiddag uit Pretoria om die aand by ʼn gastehuis in Malelane oor te slaap. Maar toe ons 17h00 in Malelane stop is die gastehuis-eienaar nie te gelukkig dat ons parkering vir ʼn karavaan ook soek nie. Ons het so paar minute gedink, vinnige tydsberekening gedoen en toe besluit om deur te ry Berg-en-Dal toe. Ons het dit met ʼn paar minute gemaak, die karavaan net op sy pootjies laat staan in die kamp. Gelukkig het ek genoeg klaar gaar kos gehad om vinnig iets aan mekaar te sit.
Só kon ons Dinsdagoggend die kamp rustig dop hou en ʼn lekker kampeerplek teen die draad kry. So luuks. Hier sien ons soveel diere verbykom, waterbokke, koedoes, duikers, selfs renosters, olifante, hiënas en ʼn musseljaatkat.
Van my beste wildtuin kinder vakansie herinneringe het ek hier in Berg-en-Dal gemaak. Dit is dus vir my dubbel so lekker om my kinders hierna toe te bring om hulle ʼn liefde vir die wildtuin te leer.

Trippel so lekker is wanneer Oupa en Ouma vir twee nagte by ons aansluit en ons saam in die wildtuin kan kuier. Carien en Linelle het dit so geniet. Oupa en Ouma leer hulle van die wildtuin en diere.
Ons het ʼn heerlike week in BD gehad. Vir my is die kamp lekker, met ʼn lekker staproete en mens kan net lekker relax. Maar die paaie rondom die kamp om diere te kyk is vir my min. Dis nie soos ander kampe waar jy in duisend rigtings of loops kan ry nie.
Diere wat ons gesien het: Olifante, Olifante, Olifante en Renosters. En al die ander gewone diere. Oulikste was seker ʼn klein renostertjie en sy mamma, of die wat teen die kampdraad afgewei het.

En van die mede-kampeerders kom sê my hoe verstom hy is dat Carien al voëls op hul name ken soos die geelbekneushoringvoël. Ook lekker as mense jou kom komplimenteer oor jou oulike soet en gehoorsame kinders. Ek skryf dit hier want dit voel beslis nie aldag so nie, en dit is lekker as vreemdes dit so nou en dan vir jou sê.

Dinge om te weet.
- Daar is ʼn oulike klimraam by die swembad.
- Wasmasjien by Laundromat vat twee nuwe R5’e.
- Mens kan lekker by die dam by ʼn bankie sit en diere kyk.
- Heerlike staproete in en om die kamp.
- Draadkampering is die beste.
- Die Tindlovu restaurant het vriendelike diens (ek vermoed hulle moes dalk hul diens opskerp na die ander nuwe restaurante in die wildtuin oopgemaak het).
Na 6 nagte in Berg-en-Dal pak ons op om via Skukuza na my nuwe gunsteling kamp, Lower Sabie te ry. Die vakansie kry ʼn nuwe dimenie wanneer ons vriende by ons aansluit, maar ons sien uit na ʼn gesellig week saam.
