Is vakansies vir jou ʼn bron van stres? Lees hier vir raad hoe om ʼn betekenisvolle en stresvrye vakansie te geniet.
Die Desembervakansie lê om die draai en vir sommige mense is dit ‘n groot bron van stres. Maar met die regte houding en hierdie nuttige wenke kan jy hierdie jaar gaan vakansie hou sonder stres.
Marietjie Strydom* was effens benoud voor haar gesin verlede jaar vir twee weke in Zambië gaan vakansie hou het.
“Alhoewel ek baie lief is vir die buitelewe, is ek nog steeds geheg aan spoeltoilette, warm stortwater en vars drinkwater. My man het my vooraf gewaarsku dat ons tydens die drie dae op pad en drie dae op die terugpad sonder water of enige ander ‘geriewe’ sou wees.”
Sy het al vroeg in die vakansie besef haar houding gaan die verskil maak in dié vakansie, want alhoewel sy positief ingestel was oor die uitdagings wat hierdie vakansie bied, was haar vriendin Sarie* minder positief.
“Sarie het keer op keer aan my bewys dat jou houding die verskil maak. Sy het herhaaldelik gesug oor die twee weke in ‘diep, donker Afrika, die wilde diere en koue nagte.’”
Marietjie sê Sarie het net so goed soos sy geweet dat hulle vir ses dae sonder enige waswater of toilette sou wees, maar sy het ‘n enorme issue daarvan gemaak.
“Op die eerste dag, nog voor ontbyt, het die 4×4 se petrolpypie ontkoppel en het ons seker die helfte van ons petrol verloor. Terwyl ek gedink het hoe vaardig my man is om die probleem vinnig op te los het sy haar oë gerol en aanhoudend gesug oor hoe die vakansie gedoem is.
“Toe ons uiteindelik by ‘n kamp kom waar daar ‘n bos-toilet (longdrop) was, was ek verheug, maar sy het so gekerm oor die stank en die ongerief. Ek was baie bly toe Sarie en haar man opgepak en teruggegaan het huis toe.”
Marietjie sê vir haar en haar gesin was dit die beste vakansie van hul lewe, maar volgende keer sal sy haar vakansie-vriende beter kies.
Johan* stem saam met Marietjie dat die regte houding ‘n enorme verskil maak. “In die laaste week van Junie was ons met ‘n hele toergroep in die Moremi-wildtuin in Botswana, en vir meeste van ons was dit een van die lekkerste dae van ons lewens. In die twee maande sedert ons terug is, het ek al vyf briewe in buitelug-tydskrifte gelees wat deur mense geskryf is wat ongeveer dieselfde tyd as ons daar was, wat niks behalwe klagtes bevat nie.” Hy glo as jy sorg dat jou houding ten alle tye vriendelik, bedagsaam, rustig en geduldig is en jy daarop gemik is om net te ervaar, kan ‘n vakansie amper enige plek ‘n onvergeetlike ervaring wees.
Wenke vir ‘n wen-vakansie
- Doen waarvan jy hou. Moenie ‘n bestemming kies wat nie by jou voorkeure aansluit nie. As jy ‘n hotel-mens is, gaan ‘n tent jou nie laat ontspan nie! Wees eerlik met jou maat oor jou voorkeure.
- Kies jou reisgenote versigtig. Moenie saam met mense vakansie hou wat jou irriteer nie. Net omdat julle op vakansie is, beteken nie hulle gaan persoonlikheidsveranderinge ondergaan nie. Inteendeel, hulle gaan nog erger word.
- Stel ‘n begroting op voordat julle vertrek. Moenie meer geld spandeer as waarvoor julle begroot het nie. Jy gaan nou al begin stres oor die finansiële probleme wat terug by die huis vir jou gaan wag.
- Beplan deeglik vooruit. As jy alles saamgebring het wat jy nodig gaan kry, hoef jy nie heeltyd noodplanne uit te dink nie.
- Neem foto’s. Vat jou kamera saam, dalk ‘n video kamera en ‘n dagboek. Dit is heerlik om agterna, wanneer die stres-duiwel weer kop uitsteek na jou herinnering te kyk en te onthou hoe lekker dit was. (Moet net nie heeltyd so besig wees om rekord te hou dat jy vergeet om deel te wees van die pret nie!)
- Bederf jouself so bietjie. Dit is die perfekte verskoning om al daai boeke te lees waarby jy nog nie kon uitkom nie, ‘n lekker wyntjie te teug en dalk meer sjokolade te verorber as wat Switserland in ‘n week kan produseer.
Wenke vir Ma’s
- Moenie alles self doen nie. Probeer om meer te delegeer en minder self te doen. Alhoewel jou gesin ook met vakansie is, beteken dit nie jy hoef alles te doen nie. Werk ‘n vakansierooster uit sodat almal help. Gewoonlik is daar ook nie ‘n huishulp saam met jou op vakansie nie, dit is nog meer rede om almal se hulp in te roep.
- Maak tyd om dinge te doen wat vir jou lekker is en waarvoor jy nie tyd kry deur die jaar nie.
- Kinders weet as jy as ouer stres en indien jy gespanne en angstig is gaan hulle dit aanvoel en nog moeiliker wees. Maak seker jy maak genoeg spesiale tyd met jou kinders tydens die vakansie. Elke kind het ander behoeftes. Doen iets spesiaals met elke kind.
- Dink speletjies uit om kleintjies mee besig te hou. Marietjie het vir haar dogtertjie briefies met lysies gegee van goed wat sy moet gaan soek soos 5 klippies, 1 wit veer, 3 dorings, 2 stokke en 1 dooie gogga. Dit het haar besig gehou en die ouers rus gegee.
- Gee vir jou kinders plakboeke of dagboeke. Laat hulle elke dag opskryf wat hulle gedoen het. As julle op uitstappies was kan hulle prentjies teken of prentjies uit brosjures knip en inplak.
Nog wenke
- Alles hoef nie perfek te wees nie. Dit is onnodig om die hele tyd op te ruim. Indien jou huis op die strand is gaan dit onmoontlik wees om die sand uit te hou. Maak vrede daarmee.
- Dink na oor jou vorige vakansies. Neem ‘n pen en papier en skryf neer wat jy onthou wat gewerk het en wat nie gewerk het nie. Kyk wat jy kan verander vir jou komende vakansie sodat dit hierdie keer nog lekkerder sal wees. Probeer onthou wat vir jou die meeste uitgeput of jou energie gesteel het. Kyk of jy dit hierdie keer anders kan doen.
- Kry ‘n tema vir jou vakansie. Indien jy ‘n kwaliteit-familietyd vakansie wil hê, maak dit die tema en kies die uitstappies en aktiwiteite rondom hierdie tema.
- Doen genoeg voorbereiding. Hoe meer jy vooraf voorberei, hoe beter. Maak ‘n lys met alles wat jy moet doen en afhandel voor julle vertrek en tiek dit af soos wat jy klaarmaak.
- Stel grense. Indien jy weet jy en jou skoonsuster stem nie altyd saam nie, besluit vooraf waar jy die grens gaan trek. Skryf dit neer vir jouself.
- Gebruik ontspanningstegnieke om kalm te bly indien iemand jou ontstel. Stadige, diep asemhaling sal jou laat ontspan en jou stres verlaag.
- Rus genoeg. Vakansie hou kan ook baie uitputtend wees. Maak seker jy kry genoeg rus. Gaan vir twee dae op lekker uitstappies, maar bly op dag drie by jou vakansiehuis en rus of doen net rustige dinge.
- Beplan jou menu vooruit. Jy hoef nie in detail elke ete te beplan nie, maar maak ‘n lys van moontlike etes en koop kos vooraf sodat jy nie elke aand vyfuur in die plaaslike supermark kos te soek nie. Moet ook nie skaam wees om papierborde of papierbekers te gebruik nie. Dit is jou vakansie ook.
- Vra gerus jou gaste om te help. Tydens vakansies is daar gereeld onverwagse vriende of familie en jy kan hulle gerus vra om nagereg saam te bring, of om te help om slaai te maak, tafel te dek of net hulle eie drankies in te gooi.
- Maak seker jou bestemming is wat jy dink. ‘n Vriendin het met haar gesin en nog twee ander gesinne in Mosambiek aangekom, net om uit te vind, daar is slegs een hut gebou en nie twee soos wat belowe is nie. Vra vir foto’s en verwysings. Moenie net ‘n telefoongesprek vertrou nie.
- Oppas vir die son. Jy wil nie op jou vakansie soos ‘n kreef lyk nadat jy verbrand het in die son nie. Begin die eerste dag met ‘n hoë-faktor sonblokroom en soos wat jou vel gewoond raak aan die son kan jy ‘n laer faktor begin gebruik.
Hierdie artikel het ek destyds vir Vrouekeur geskryf en die oorspronklike artikel het in die tydskrif verskyn. Ek het dit nou herskryf vir Rondrits.
*Skuilname
