Monaco parkeerplek vir rykes se seilbote en sportmotors

Ek kan nie glo dit is al Dag 7 van ons vakansie nie. Verlede week hierdie tyd was ons in die vliegtuig.
Vandag begin ons ‘n nuwe gedeelte van ons vakansie. Ons groet Frankryk en ry na Italie.
Soos met alles in die lewe moet jy ook maar jou admin op vakansie doen. Soos wasgoed was. Ek het ‘n wasserette in Nice gegoogle en met my toergids-boek (die beste R250 wat ek as voorbereiding vir die vakansie spandeer het) het ons dit gevind. Ons sou HH en 10 teen middagete by Nice lughawe ontmoet.

Dit was ‘n hele nuwe ervaring vir my om geld in ‘n masjien te gooi en jou wasgoed te was. Daarna moes ek uitwerk hoe werk die droeer! Marius het intussen parkering gaan soek. Sowat 1km verder was hy dankbaar toe hy ‘n parkeerplek vind. Hy was minder opgewonde toe ons na ‘n uur terugkom en ‘n boete in die venster vind. Dit was nie parkeerplek nie, maar ‘n sypaadjie. Oh well.
By die wasserette was ‘n jong ou besig om sy wasgoed te was. Hy kom vir ‘n jaar of twee in die stad werk. Hy het vinnig agtergekom ons is toeriste en gevra waar ons vandaan kom. “You are from South Africa?” Ek knik. Hy frons. “Were you born there?” Ek knik nog meer.  Nou is daar ‘n frons en verbasing. “But I thought South Africans are black?”
Ek kon nie help om hardop uit te bars van die lag nie. Hy was so bietjie verlee en het omverskoning gevra indien hy aanstoot gegee het.  Ek het toe vir hom mooi verduidelik dat ons ‘n diversiteit van mense in ons land het. Ek wou nog vir hom vertel dat daar ook nie leeus in ons strate loop nie, maar ek wou hom nie op een dag heeltemal ontnugter nie.

Soms kry ‘n mens sulke snaakse opmerkings. Gister het iemand vir ons gese hulle sal nie sommer SA toe kom nie omdat dit gevaarlik is. Aren’t you scared to live there? Hoe verduidelik jy vir iemand wat vas glo dat SA ‘n vreeslike land is dat hulle lande maar ewe erg is?

Ons vakansie het sommer opnuut begin toe ons HH en 10 by die lughawe ontmoet. Ek het 10 van ver af gesien en sommer kliphard na haar geroep.
Met al ons bagasie in die kar geprop besluit ons om Monaco te gaan verken. Monaco is een van die heel kleinste lande in Europa en net die rykstes kan dit bekostig om hier te woon.

Ek het vir HH en 10 net bietjie minder as twee jaar laas gesien, maar dit het soos gister gevoel toe ons mekaar sien. Ons het dadelik weer gekliek en land en sand gesels.

Wat ek wel vergeet het is hulle liefde vir sportmotors. Dit was nogal grappig in Monaco elke keer wanneer tegelyk omkyk, want hulle het ‘n Ferrari hoor aanry. 10 was rasend van opgewondenheid oor al die sportmotors wat verby gery het.
Slegs twee gelede was die Monaco Grand Prix op die TV en dit het onwerklik gevoel dat ons in die land staan. Vandag drink ons
drankies op die renbaan. Jy kan die merke van die bande nog op die baan sien.

Grand Prix renbaan

Die swart sirkel is die eindstreep, die rooi sirkel is waar die tonnel waardeur die karre ry.

Die laaste opruimwerk is nog besig, hier en daar staan bande wat sou keer dat ‘n kar die skare in vlieg en stadiums staan nog plek plek opgerig.  Ek moes nogal aan my pa en rudy dink toe ek dit alles so bekyk.


Die foto is in die venster geneem terwyl ‘n sportskar verby jaag.

Monaco is indrukwekkend. Die paleis, die straatjies, die hawe… beslis die moeite werd om dit te besoek.

Net na 8 vanaand het ons die grens na Italie oorgesteek. Au revoir France.
Vanaand slaap ons in San Remo. ‘n Italiaanse kusdorpie vir die rykes.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *