24 September 2018. Amsterdam na Florence.
Ons groet Nederland om die tweede deel van ons reis aan te pak. Liewe T laai ons ses uur in die oggend by Delft Station af. Ons het besluit dit is beter om met die trein na Schiphol te reis. Ons vind die regte trein en kom veilig by Schiphol aan. Daar weeg ons bagasie in, loop nog so bietjie in die lughawe rond, drink ʼn koffie voordat ons half tien opstyg met ʼn KLM vliegtuig na Florence. Ons land en stap uit en onmiddellik voel ons die temperatuur verskil. Dis warmer. Na so bietjie soek en wonder vind ons die bus waarmee ons inry stad toe. Die roete in stad toe beïndruk mens nie regtig nie, dit lyk soos ʼn gewone stad, enige plek in die wêreld.

Van die stasie waar die bus stop stap ons in die bloedige hitte met ons swaar tasse na ons AirBnB. Ons kry dit gelukkig maklik genoeg. ʼn Woonstel op die Arno rivier in die Oltrarno kunstenaarsbuurt. Ons sit ons tasse neer besluit om die buurt waar ons bly te gaan verken. Ons gaan soek ʼn plekkie om te eet op die Santo Spirito Square. En ons skrik ons dood vir die pryse (!). Later sou ons agterkom Florence is nou maar net so duur. Ek het die plattelandse pryse in my kop gehad, baie goedkoper. Florence is natuurlik ʼn baie gewilde toeriste bestemming.

Ons vat ʼn heerlike lekker lang middagslapie om bietjie by te kom. Die aand stap ons oor die Ponte Vecchio na die Duomo en Baptistery en verken Florence bietjie te voet. Ons was moeg, die hitte, die nuwe indrukke, die vlieg… ons kon nie wag om more werklik te begin verken nie.

Lekker ne om terug te kyk. Xx
Outlook voor Android downloaden
________________________________