Naweekplanne vir Gautengers

Dis nou eers September en dit voel of die Desembervakansie nog baie ver weg is. Die tyd van die jaar raak almal krapperig, humeure vlam op en jy voel net eenvoudig moeg. Ons volgende wegbreek is reeds bespreek en betaal, maar dit is ook eers oor ʼn paar weke. Die laaste paar dae dink ek aan idees om hierdie naweek soos ʼn vakansie te laat voel.

Ek onthou ek het in 2008 ‘n groot naweek-idees dinkskrum gehou vir ʼn artikel wat ek vir Vrouekeur geskryf het met wenke hoe om ʼn naweek soos ʼn vakansie te laat voel. Ek haal ʼn paar idees daaruit aan en dink ʼn paar nuwes uit. Hoop dit inspireer jou ook om ʼn lekker naweek te hou.

Johannesburg het nou sy eie Hop-On-Hop-Off rooi bus gekry! Dit is ʼn absolute moet op my lysie. Ek is mal oor die vibe in Johannesburg. So ʼn dag sal my beslis soos ʼn toeris in my buurstad laat voel. Ek dink boonop sal dit ʼn goeie idee wees om Carien saam te vat as ʼn toetslopie vir ʼn moontlike oorsese vakansie (hopelik). Ek het die busritte in Perth en Parys baie geniet. (London en New York kom ook nog… ek hoop…) Kliek hier vir meer inligting oor Johannesburg se bus.

IMG_4109
Hop-On-Hop-Off bus in Perth, Augustus 2007.

Toetsbestuur jou droomkar. Ons is baie gelukkig met ons tweedehandse, afbetaalde karre. Maar soms droom ons oor ‘n splinternuwe kar (veral oor die Ford Kuga). Maak ‘n afspraak by jou naaste motorhandelaar om die kar van jou drome te toetsbestuur. Geniet elke oomblik agter die stuur, gaan huis toe en droom verder.

Ry ‘n stoomtrein. Daar is nog bittermin werkende stoomtreine in Suid-Afrika. Dit is ‘n ervaring wat jy nooit sal vergeet nie, www.steamtrains.co.za en die Friends of the Rail.

Harties se kabelkar ry weer! Ons het dit onlangs beproef en dit is heerlik. Drink ‘n bier terwyl jy uitkyk oor Hartebeespoortdam. Koop jou kaartjies vooraf aanlyn, dis goedkoper. Naweke is daar ‘n kort ry, maar dit beweeg redelik vining. Beslis die moeite werd. Harties kan ‘n hele daguitstappie op sy eie wees. Daar is ook die Jasmyn Molen en die Bush Baby Sanctuary om net nog twee te noem. Besoek Harties Kabelkar se webwerf hier: www.hartiescableway.co.za.

20131123_120457
November 2013. Carien se eerste rit in ‘n kabelkar.
20131123_114755
Baie beïndruk met die uitsig.

Ry vroeg-oggend en gaan eet ontbyt in Dullstroom of Parys. Pak ‘n piekniekmandjie vir middagete. Besoek die kunstige winkels na ontbyt en hou piekniek vir middagete.

Niks so lekker soos Pilanesberg vir ‘n dag nie. Ons val gewoonlik so 05:00 in die pad, eet daar ontbyt om 07:00 en het ‘n volle dag om wild te kyk. Die is beslis my gunsteling dag-uitstappie, deels omdat daar amper geen selfoonsein in die park is nie.

DSCN0159
Pilanesberg, Maart 2014.
DSCN0111
Middagete by die restaurant by die Pilanesberg “sentrum”. Die restaurant het lekker kos en dis bekostigbaar. Maart 2014.

Gesinstyd is kwaliteittyd. Reël ‘n skyfievertoning vir die familie. Nog iets wat al vir twee jaar op my lysie is. Laat almal ou foto’s en skyfies bring. Sit ‘n groot skerm op vir die foto’s. Laat elke familielid ‘n familietreffer bring en kuier saam terug in tyd.

Recommended Articles

2 Comments

  1. Goeie idees! Ek moet bietjie ook Pilanesberg toe gaan…

  2. Baie dankie vir die tips ek sal probeer om dit in die volgende naweke te gebruik veral Pilansberg vir n dag klink baie lekker. Miskien die volgende naweek .groetnis

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *