Die Itria vallei was een van die redes hoekom ek baie graag Puglia wou verken. Die bekende dorpie Alberobello is ongeveer twee ure ry vanaf San Foca. Marius besluit om met Carien by die huis te bly, sodat ek saam met H&T die omgewing kon verken. Ek en H&T ry vroegoggend rigting Lecce, verby Brindisi na Ostuni. Ons kom net na 09:00 aan, die winkels is skaars oop. Die sogenaamde “wit stad” spog al met haarself van ver af. Soos wat mens aangery kom sien mens die wit stad afgeets teen die heuwel. T se reisgids, Puglia deur Willemijn van Dyk, beveel die Mona Lisa Bar aan vir ontbyt. Dit was nou ‘n lekker ervaring. Die kroegie is in ‘n grot uitgrawe in die grond. Ons eet die tipiese Pasticciotto met ‘n cappucino. Die kroegman is vriendelik en dit is beslis ‘n goeie plek om te begin.
Vanaf daar loop ons die Via Cathedrale deur die ou stad op na die boonste punt. Dit is ‘n lieflike stad en ‘n mens kan verdwaal in die doolhof van nou stegies en wit huise. Winkels verkoop tipiese produkte uit die omgewing. Ek swig vir ‘n leerhandsak (ok, vir twee) en ‘n paar leer-sandale. H&T droom van ‘n huisie op die stadsmuur wat uitkyk oor die see en die vallei.
Van Ostuni af ry ons na Alberobello wat bekend is vir haar Trulli huisies. Middagete probeer ek en Tineke die tipiese Orecchiette pasta. Dit beteken letterlik klein oortjie, lyk soos ‘n oortjie en word handgemaak. Dit was heerlik. Die trulli-distrik was nogal ‘n belewenis, behalwe dat dit geweldig toeristies is.
Ons ry ‘n vinnige draai deur Loccorotondo, en teen die tyd wat ons by die pragtige dorpie Martina Franca kom is alles reeds toe vir siesta-tyd.
Ons ry via Brindisi huis toe, ons stop eers vir ‘n drankie op die hawe. In Brindisi ry ons met die beroemde via Appia die stad in. Die pad lei tot in Rome. Teen hierdie tyd kon ek nie meer loop of inneem nie. Daar is so iets soos sensoriese oorstimulering. Maar dit was beslis een van my lekkerste dae op die reis.













Dit lyk so oulik!!