Wanneer ‘n restaurant-eienaar spesiaal uitstap om jou te kom groet by die kar en die gastehuis-eienaar in Avignon jou ‘n bottel wyn in die hand stop op pad uit dan weet jy, jy hou lekker vakansie.
‘n Week in die suide van Frankryk is net genoeg om jou te lus te maak om weer te kom. Ons roete begin by Vence, ‘n klein Middeleeuse dorpie net bo Nice, via die Gorges du Verdon tot in Avignon en dan via die Franse Riviera terug na Antibes.

Vence Old Town 
Vence Old Town 
Vence Old Town
‘n Glimps uit die middeleeue
Vence is ‘n Middeleeuse dorpie wat in die berge gebou is. Omring met ou stadsmure en regte poorte lei verskillende stegies jou na kunsgalerye, restaurante en regte egte Middeleeuse fonteine met vars fonteinwater. Ons het ons kar by die gastehuis gelos en te voet die ou dorp gaan verken. Dit is ‘n werklik ‘n juweel. My mond het oopgehang. My reisgenoot se woorde: “Ek dog dit lyk net so in die flieks.” Volgens die Lonely Planet reisgids is daar gedeeltes in die dorpie wat uit die 13e eeu dateer.
Ons het middagete by ‘n restaurant langs een van die stadspleine geniet. Die gastehuis-eienaar, Jean-Lucien het later ons verseker ons eg provinsiaal geëet het. Niemand eet vinnig nie. Dit is ‘n lang uitgerekte kuier onder groot bome en sambrele met baie wyn (en net so baie water).
Eet was een van ons hoogtepunt in die suide van Frankryk. En ons eerste aandete in Vence was ‘n raai-raai speletjie. Niemand kon Engels praat nie en ons raai watter woorde bekend lyk op die menu. Ons geregte was dus ‘n (baie lekker) verrassing.
Die lekkerste is om buite op die plein te sit en die atmosfeer in te drink. Op die plein speel kinders en die vroue hang bo uit die woonstelle se vensters om ‘n ogie te hou oor hul kroos. Orals kuier mense luidrugtig, kerse flikker en kelners draf tussen die tafels deur. Ek was mal oor die krafies water wat saam met elke bottel wyn op die tafel gesit word. Iets wat ek nou ook doen as ek tuis onthaal.
Kenmerkend aan Vence is die Matisse Kapel. Dit was Henri Matisse se laatste groot werk. Dit is sowat 20 minute se stap uit die ou-dorp. Ek is spyt ons kon dit nie besoek nie, dit was egter net sekere tye oop en ons het dit gemis.
Vence maak deel uit van ‘n sirkelroete van ou Middeleeuse dorpies. Asof Vence nie reeds indrukwekkend was nie het Coursegoules, Gourdon, Tourettes-sur-Loup en St Paul de Vence ons asems weggeslaan. Laasgenoemde is ‘n baie bekende en duur toeriste dorp. Hier kon ons net bekostig om te kyk. Ek het die mindere kommersiële Vence meer geniet.
Rustig deur die platteland
Na drie dae in die Vence reis ons na die ou stad Avignon. Daar is twee opsies om vir die rit: via die kus, of deur die binneland.
Ons kies die rit deur die binneland verby die Gorges du Verdon. ‘n Roete wat die Jean-Lucien in Vence vir ons aanbeveel het. Dit was ‘n ompad, maar beslis die moeite werd. Daar word na die Canyon as Europa se Grand Canyon verwys. Dink Blyderivier-Canyon, maar baie baie groter. Ons het ons verkyk aan die enorme kolkgate hoog, hoog teen die kranse op.

Ons sou eintlik verkies het om hier met ‘n oop sportsmotor om die draaie te skeur, nes 80% van die mense wat verby ons gery het. Maar ons piepklein huurmotortjie moes maar die ding doen.
Iets wat ‘n mens nie altyd besef nie is dat afstande in Europa anders is as afstande in Suid-Afrika.
Vence en Avignon is sowat 250 km uitmekaar. Tien ure later, baie bergpasse, bietjie verdwaal en ‘n klein bietjie baklei (ek het mos gesê ons moet ‘n GPS huur), het ons uiteindelik in Avignon aangekom. My reisgenoot het gekies om sonder ‘n GPS te reis en ons padkaart was uit brosjures van toerisme-kantore en die kaarte uit my Lonely Planet reisboek saamgeflans.
Die lang rit was die moeite werd. Avignon is alles wat ons gehoop het en meer. Boonop het ons gastehuis soos iets op ‘n poskaart gelyk, ‘n regte Château.

Paleise, Pouse en Pont Saint Benezet
Vandag is Avignon ‘n wêreldstad soos enige ander stad. Ek was eintlik eers so half teleurgesteld. Maar sodra jy by die poorte van die stadsmure instap wag die ou stad om verken te word. Binne in die stad is die ou paleis van die Pouse, oftewel Palais des Papes. Tydens die 13e en 14e eeu was daar twee pouse, een in die Vatikaanstad en een in Avignon. ‘n Besoek aan die paleis is die moeite werd al is dit sowat R150 per persoon om in te gaan. Elke toeriste kry ‘n luisterapparaat in hul eie taal om na vertellings oor elke vertrek en item in die paleis te luister. Ek het hier en daar gevoel asof ek weer in die laerskool is en na my kerkgeskiedenis-onderwyser luister.
Caroline, die gastehuis-eienaar het in haar gebrekkige Engels vir ons verduidelik presies waar om te ry en waar om te vermy. Sy het ook ons na ‘n straatkafee vir middagete verwys. “Wees versigtig vir die ander restaurante, hulle is gemik op toeriste en hulle kos is nie altyd ewe vars nie.”
“They make zhe fresh zandwiches. Zhe others, zhey cater for zhe tourists.” Ons het haar raad gevolg en vir die eerste keer regte Franse baguette met kaas en ham geëet.
Die 15Euro toegang by die paleis het ook toegang tot die Pont Saint Benezet ingesluit. Die brug is gebou nadat ‘n man gesê het God het in ‘n droom aan hom gesê hy moet die brug oor die magtige Rhône rivier bou. Die amptenare het gelag en gesê as God dit gesê het, moet hy ‘n groot steen op tel en as die fondament gaan lê. Die man het nie gehuiwer nie, die enorme steen opgetel, die water ingestap en die fondament gelê.
Ons laaste stop in die ou stad was die Notre Dame kerk langs die Paleis besoek, dit is ontsaglik om die goud en versierings in die kerk te sien.
Die roete deur Luberon: ‘n skilder se droom
Vanaf Avignon het ons rigting Marseille en via die Franse Riviera na Antibes gereis. Caroline het ‘n roete deur Luberon voorgestel.
Haar seun moes vir ons kom tolk want haar Engels is nie heeltemal verstaanbaar nie
Volgens haar moes ons eerste by die Abbaye de Senaque stop. By die abdy maak die monnike self laventel produkte en verkoop dit. Alles is natuurlik. Sy waarsku ons ook dat die Laventel nie orals so mooi blom soos wat die moes nie, want dit was die afgelope twee weke nogal koud in Provence.
Die abdy is beslis ‘n skilder se droom. Voor die abdy sit vrouens op klein stoeltjies met ‘n palet en verfkwas en skilder die prentjiemooi klooster met die laventel in die voorgrond. Binne in die winkeltjie ruik dit ene laventel en word jy gehelp deur die monnike. Dit was beslis die moeite werd om hier af te draai.
Ons roete deur Aix was ongelooflik mooi. Ons het vir middagete in die Bonnieux gestop. Dit is hier waar die fliek A Good Year verfilm is. Ons middagete was by ‘n straatkafee oorkant die restaurant in die fliek.
Almal gee raad voor jy op vakansie na Europa vertrek. ‘n Hele paar mense het gesê dit is onnodig om verblyf vooraf te bespreek, veral omdat ons nie in die piektyd (Julie en Augutus) reis nie. Ons het dus nie vooraf plek bespreek vir Aix-en-Provence nie. Ongelukkig vir ons was die stad volbespreek as gevolg van ‘n reuse kongres. Die meisie by die toerismekantoor het net haar kop geskud. Ons het begin rondbel, maar almal sê in gebrekklike Engels dat jy liewer moet ‘n e-pos stuur. (Sodat hulle dit deur Google Translator kan vertaal, het ons agtergekom).
Ons het besluit om na Marseille te ry om daar ‘n hotel te soek vir die nag. Marseille is presies wat ek gedink het dit sal wees: ‘n baie besige hawestad. Daar by die McDonalds kon ons ons eposse oopmaak en uiteindelik verblyf vind vir die nag.
Rits deur die Franse Riviera
Die volgende oggend het ons eers verblyf in Antibes gesoek op die internet en toe die prentjiemooi roete via die Franse Riviera aangepak.
Ons het steeds die roete gery wat Caroline van die Avignon gastehuis vir ons aanbeveel het, kuslangs. Sy het nie gejok oor hoe mooi dit is nie, die omgewing is prentjiemooi. Die rooi berge en blou-blou see vorm ‘n ongelooflike kontras.
Die beste raad wat ons van die locals kon kry was om van die snelweë af te wyk en die kleiner paadjies te volg, jou reistyd is dubbel so lank, maar dit is oor en oor die moeite werd.
Die Franse Riviera was ook alles wat ons gehoop het dit sal wees: Die seilskepe, die mense in ontwerpersklere en vroue in hoëhakskoene langs die strand. Hierheen wil ek eendag terugkom.
Antibes was ons laaste aand in Suid-Frankryk. Teen die tyd het ons al geweet om die eienaar by die gastehuis te vra waar om te gaan eet. Ons het vis by ‘n plaaslike restaurante geëet en gekyk hoe die inwoners die laat sonsondergang op die strand geniet.
Suid-Frankryk was alles wat ons gehoop dit sal wees. Alhoewel ons bietjie verdwaal het, baie ver gery het niks Frans kon verstaan nie, is ons horisonne verbreed. Gesels met die plaaslike inwoners, hulle ken die beste paaie en eetplekke.
Die reisgids met nuttige inligting was die beste vooraf aankoop en toergids op ons reis. Volgende keer sal ek tog my verblyf vooraf bespreek.

Hierdie artikel van my was voorheen in Vrouekeur gepubliseer.













