Dink jouself in: Jy stap in ‘n fabriek in en al wat jy ruik is heerlike Switserse sjokolade. Jy loer deur glasvensters en sien hoe liters vol sjokolade in vorms gegiet word.
Glo my, dit is so lekker soos wat dit klink. ‘n Besoek aan die Schoko Land Museum van Alprose Chocolat, net buite Lugano, is beslis die moeite werd.
Die ingang is slegs 3Euro, dus het nie te veel verwag nie. Tog was dit baie indrukwekkend. Ek dink net hoe vinnig ek my sjokolade-brandewyn balletjies sou maak as ek so masjien gehad het. Sjokolade word in vorms gegiet, dit word geset en verpak. Die klein koffie-tjoklitjies is die oulikste om te sien. Dit word deur ‘n masjien verpak en dan uitgespoeg in bakke waarna dit in kleiner pakkies gaan.
Liters sjokolade word in vorms gegiet.
Elke reep sjokolade word geweeg. Die wat ondergewig is word uitgegooi vir die gratis proe-sjokolade.
Na ‘n besigtiging van die fabriek kan jy die museum besoek en dan: die winkel waar jy kan proe en koop. Ons het net duskant naar daar uitgestap want die sjokolade is vrek lekker. Ons het ook net duskant arm uitgestap want ek en M het kinderlik opgewonde ons mandjie volgelaai.
Ons inkopies.
Die verkenningstog vir die dag was nog nie klaar nie. Die Switserse stad Lugano was volgende. Eintlik net die winkelstrate met winkels soos Louis Vitton en Versace. Dit was ‘n window shopping uitstappie want een handsak by Louis Vitton is amper my jaarlikse salaris. HH en M is by Nespresso in om vir M te wys hoe die Nespresso masjiene werk. Ek het dit nooit kon dink nie, maar M geniet nogal die Espresso’s!
Na ‘n besoek aan McDonalds (vir die gratis WiFi) kan ons meer sekerheid sê: Switserland is duur. Een sakkie tamatiesous kos net soveel soos ‘n klein pakkie tjips in SA.
Op pad na die huisie toe het ons ‘n steil pad wat teen die berg op kronkel gevat na ‘n klein dorpie Castello. Dít is werklik ‘n besondere dorpie. Maar dit is hier wat ek begin vermoed het dat ek nou amper aan Stendahl sindroom ly. ‘n Sindroom waar jy oorweldig word deur al die kuns en kultuur wat jy beleef.
Die Franse filosoof, René Descartes het eenmaal gesê: “Traveling is almost like talking with men of other centuries.” Hoe waar is dit nie. Soms as ek deur die middeleeuse strate en stegies loop verbeel my ek hoor perdepote agter my. Hier besef jy die wêreld draai al vir baie jare.

Ek hou so verskriklik lekker vakansie dat ek soms my kamera laat lê en die blog vergeet. Ons het ook nog ‘n draai by Lake Como en Lake Maggiore gemaak. Altwee mere is mooi, tóg verkies ek en 10 ons meer, Lake Lugano. So hierdie afgelope week het maar net twee inskrywings.
Porlezza
Vanaand is bittersoet. Dit is ons laaste aand in Italië. More-aand pak ons die sowat 900 km na Nederland aan. En alhoewel ek uitsien om nog van Switserland te sien, more-aand in Duitsland te eet en al ons familie te kan sien in Nederland, is ek hartseer om Italië te groet. Die land het na twee weke ‘n stukkie van my hart gesteel.




