Bestemming: Paindane, Inhambane
Kilometers: 937km
Voertuig: Toyota Landcruiser
Reisgenote: Twee
Ons het die pad oor twee dae aangepak en op pad by ‘n netjiese gastehuis in Komatipoort, ‘n klipgooi van die grens, oorgeslaap. Ons het dit juis so gedoen om vroeg deur die grens te wees om te voorkom dat ons in die donker ons presiese bestemming moet soek.

Die grens vat egter maar gemiddeld ‘n uur maak nie saak wat jy doen nie. Ons het ons bes probeer om die runners te vermy. Runners is ouens wat namens jou in die ry staan en jou vinnig deur die grens kry. Teen ‘n prys natuurlik. Die ouens kom aanhoudend en vra vir jou hekpas, ek besef toe as hulle jou hekpas het, is jy gesnoeker, want dan gaan jy moet betaal vir sy diens en om jou hekpas terug te kry. Die runners het selfs plastiek “identifiseringskaarte” waarop official staan.
Aan Mosambiek se kant van die grenspos is dit egter nogal ‘n uitdaging aangesien die papier oor jou kar slegs in Portugees uitgereik word. Jy moet dus noodgedwonge een van die ouens gebruik om jou te help vertaal.
Tog is dit nie meer so skrikwekkend soos toe ek die eerste keer, vier jaar terug, moes deurgaan nie. Dit help ook om presies te weet wat om te doen – in watter volgorde.
Cornê, die ou wie se huis ons huur, het ‘n alternatiewe roete voorgestel om Maputo te vermy. Dit is sowat 50km korter as die pad via Maputo, maar jy wen nie regtig tyd nie aangesien dit meestal grondpad is. Ons het al Maputo gesien, dis ‘n geweldig indrukwekkende stad, maar om die verkeer, polisiebeamptes en padwerke te vermy het aanloklik geklink. Dit was ? goeie keuse.
Net so 60km Noord van Xai-Xai (uitgespreek Sjaai-Sjaai) eet ons middagete by ? klein kafee: Café Nina. Ons stop nog een keer, by Quissico om ? simkaart met data te koop. Hier was ? tolk nodig want die Mcell verkoopsmanne praat net Portugees en nie Engels nie.
Interessant is dat Mosambiek vier jaar gelede oor die algemeen geel was en vandag baie rooi. Vier jaar gelede was baie huise, winkels en geboue geel geverf as MCell advertensies (MTN). Dit is opsigtelik dat Vodacom intensiewe bemarking gedoen het, want oral is huise en winkels nou rooi vir Vodacom.
- Vodacom in Mosambiek
Desondanks ons vroeg opstaan en vroeg ry, bly dit maar ‘n lang pad. Ons het eers na donker by Paindane aangekom. Die huis het ons verwagtings oortref. Oorspronklik sou ons in Maart hiernatoe gekom het saam met my niggie en haar man uit Nederland, maar ongelukkig het dit nie deurgegaan nie. Op pad in die kar het ons nogal daaroor gesels en ek het skoon ‘n traan weggepink dat hulle nie saam met ons hierdie ongelooflike land beleef nie.
- Palmbone is kenmerkend aan die Inhambane distrik
Palmbome is baie opvallend in die Inhambane distrik.
Hoogtepunte van die pad:
Vir my reisgenoot: Om die land, die plaaslike villages en die omgewing op die alternatiewe roetes te ervaar. En natuurlik die hoeveelheid Toyota’s op die pad in vergelyking met Landrovers en Patrol’s (slegs 1).
Vir my: Die skoon toilette op die roete! Van vorige reise na Mosambiek onthou ek vuil toilette langs die pad. Ek was dankbaar vir ? baie skoon toilet in Xai-Xai. Een rede kan waarskynlik wees dat daar baie minder mense hierdie tyd van die jaar die toilet gebruik teenoor Desember waar Suid-Afrikaners in hul massas Mosambiek toe stroom.
- ‘n Bus op ons roete.


