Berg en Dal: Junie 2014
Só koop ons ʼn karavaan. Ons praat al vir ʼn hele paar jaar daarvan om een te koop. Maar die nuwe karavane op die mark is duur! Marius besluit ons gaan ʼn tweedehandse karavaan koop. Hy spoor ʼn karavaan op wat ongelooflik goed opgepas is deur die jare. Ja, dit is ʼn ou karavaan, maar ons is in ons skik. Hy het skaars die karavaan in die erf getrek of ons bespreek ons eerste vakansie in die wildtuin. Verblyf in die wildtuin raak al hoe duurder. ʼn Chalet is minimum R600 – R800 per nag. En die laaste paar kere het ek gepiep oor huisies wat nie skoon of beddegoed wat nie reg was nie.
Ons het ʼn week in Berg en Dal gaan kampeer. Dit was absoluut heerlik. Carien was ʼn droom-reisiger. Sover het ons nog net “maklike” vakansies met haar gehad. Ons kan nie wag om weer te gaan nie, maar voor die herinneringe vervaag moet ek ʼn paar punte deel oor ons vakansie.
- Carien het nog net-net gestap, maar op die grond was sy nog bietjie onstabiel so sy het oral op die grond gekruip.
- Ek moet nog leer om die karavaan te pak. Goed, omstandighede het gemaak dat ons dalk nie wou gaan nie, maar op nommer 99 het ek goed in sakke gepak. Fout. Gebruik die kaste in die karavaan.
- Pak minder. Los die mikrogolf, die ketel en al daai dinge tuis. Onnodig.
- Die tent kan nie vasgemaak word as die grond nie gelyk is nie.
- Dinsdae, Woensdae en Donderdae is die beste tyd om kamp op te staan. So ongeveer 9am. Dit was die leegste dae in die kamp.
- Ek het heerlik gestort deur ʼn gewone sagte stortmatjie buite die stort te sit. So het ek met my skoon voete op die sagte mat gestap ipv op vuil teëls wat die vorige persoon nie agter haar skoongemaak het nie. Dit is een luukse wat mens maar kan inpak. Onthou volgende keer handy andy vir die bad.
- Onthou volgende keer ʼn waaier, al is dit winter.
- Die bed slaap fantasties. Die nespresso masjien kan weer saamkom (nog ʼn luukse wat ek saamvat).
- Ons het een dagrit gemaak na Skukuza. Dit was te ver en te lank vir Carien en Skukuza was ʼn teleurstelling omdat die museum gesluit is (tot verdere kennisgewing). Die korter ritte werk baie beter.


















Klink heerlik!