Ons was vir ʼn volle week by die Leriba Coastal Golf Lodge, Princes Grant Golf Estate aan die dolfynkus. Ek het die week “gewen” deur die hoogste bod in te sit by ʼn kompetisie vir die media. Alhoewel ons geen dolfyne aan die dolfynkus gesien het nie, was dit ʼn lekker wegbreek.
Egter nie sonder die nodige drama nie. Eerstens het ons die R74 gery, nie gesien die pad is gesluit nie en die dapper bestuurder het Slakkie in ʼn enorme gat laat vasval, die angs langs die pad het ek lank laas beleef. Die volgende dag het Liza se kar by Mooirivier gebreek. Marius en Dalene het haar gaan haal. Tussendeur was daar ʼn paar siek gaste, maar na dag drie het alles so bietjie opgeklaar en kon ons lekker ontspan.
Die lodge is deel van die bekende Leriba Lodge in Centurion. Dit is ʼn lieflike huis met ses en-suite kamers, met ʼn see uitsig, in die middel van die Princes Grant Golf Estate. Sowat van sekuriteit het ek lank laas gesien, en lank laas só veilig in ʼn plek in Suid-Afrika gevoel.
Ek dink dis ʼn fantastiese plek vir golf-spelers, maar vir ons nie-golfers was daar net soveel pret. Ons het op die strand gaan stap, gaan roei op die lagoon (waar ons selfs ʼn visarend gesien het) en van ons het gaan stap tussen die bosse om voëls te kyk.
Die blou-ape het ʼn paar aanvalle op ons geloods, maar gelukkig kon ons hulle fnuik. Van ons het deurgery Ballito, Durban en Umhlanga toe. Ander het net heeldag boekgelees en bankgehang.















Was so lekker. X
Ek sien dit nou eers. Oulik.