‘n Olifant-ervaring saam met Nambu Camp

Hierdie artikel was oorspronklik op Maroela Media gepubliseer.

Die son is besig om te sak, en ons is omring deur olifante. Regs agter my breek ‘n jong olifantkoei ‘n tak van ‘n kort boom af. Voor ons vorm ‘n stofwolk waar ‘n paar jong olifante stoei. Ons staan bo-op ‘n klipkoppie in die veld in die Groter Krugerwildtuin, ons voertuig seker so 50meter van ons af. Dít is Afrika op sy beste.

Jy kan kies, jy kan die gewone “Kruger-safari” doen en met jou eie voertuig self deur die Krugerwildtuin gaan toer. Of jy kan ‘n Kruger-ervaring saam met Nambu Camp beleef. As ek ‘n oorsese toeris was sou ek beslis laasgenoemde gekies het, en selfs as ‘n Suid-Afrikaanse reisiger was dit vir my ‘n unieke belewenis.

Ons het die voorreg gehad om op ‘n laatmiddag wildsrit saam met Nambu Camp te ry. Rewald Drinkwater, eienaar van Nambu is ons gids. Met ons aankoms vat hy ons eers op ʼn vinnige toer deur die kamp wat uitkyk oor een van die vertakkings van die Olifantsrivier. Hy wys vir ons hoe hulle die beste maak van die olifant oorbevolking deur die olifantmis te gebruik as bedekking vir hulle kamp se wandelpaadjies. Maar die kersie op die koek is ‘n toilet met ‘n reuse glasvenster wat uitkyk oor die Afrika bosveld. “Soms verloor ons ons gaste hier,” sê Rewald. Hy lag. Ek verbeel myself hoe ek ook sal maak asof ek ‘n draai moet loop maar net hier kom sit en wegkruip vir die wêreld.

Rewald se kennis van die veld is verstommend. Maar hoe dan anders as jy hier grootgeword het. Hy vertel vir ons so tussen die ry deur hoe hy en sy broer eendag hier in die bos gedraf het, sy pa agterna in die bakkie. Skielik sien sy pa leeus, en probeer toet om hulle aandag te trek, maar die bakkie se toeter het nie baie goed gewerk nie. Daar draf hulle toe, salig onbewus van leeus wat links van hulle saam draf.  

Hy wys vir ons bakens uit, vertel stories oor die diere en die geskiedenis van die omgewing. Die gesprek draai ook weer terug na die oorbevolking van olifante. Almal het ʼn opinie. Maar niemand het ʼn volhoubare oplossing nie. Tussen die stories wys hy diere uit. Ons stop op ʼn stadium by ʼn klein troppie olifante wat ʼn maroelaboom stroop. Dit is merkwaardige diere en om so naby aan hulle te sit en te kyk hoe dit so moeiteloos maak ʼn mens stil.

Rewald stop by ‘n klipkoppie vir sonsaksopies. Regs van ons in die veld wei ‘n trop olifante. Maar hulle is rustig en ver. Ons klim uit, kinders en al. Halfpad teen die koppie op vertel hy vir my hoe hy drie dae terug ‘n luiperd op die einste koppie gesien het. Ek huiwer net so effens voor ek verder stap, maar besluit toe maar as Rewald sê ons stap, dan stap ons. Bo-op het ons ‘n 360 grade uitsig oor die veld.

Dít is Afrika op sy beste.

Iemand het eendag vir my gesê ‘n wildsrit is soos om die lotto te speel, jy weet nooit of jy vandag die jackpot gaan Iemand het eendag vir my gesê ʼn wildsrit is soos om die lotto te speel, jy weet nooit of jy vandag die jackpot gaan wen nie. Maar vanmiddag slaan ons die gelukskoot. Stadig maar seker het die trop olifante nader gekom en ons heeltemal omring. Wat ‘n ervaring. Jy voel asof jy een is met die bos en die natuur tussen die olifante. So nou en dan kan jy sien hoe hulle ʼn slurp draai om ons te ruik. Die wat reg langs ons kom vreet, lyk asof hulle ons direk dop hou met ʼn groot oog. Olifante is mos immers baie intelligent. Ons besef ook die trop is baie groter as wat ons oorspronklik geskat het. Op een stadium tel ons ongeveer 50 olifante om ons.

Daar staan ons op die koppie in die veld… tien mense tussen ‘n trop van tenminste vyftig olifante. Ja, van die kinders was benoud, maar al vier die kinders (tussen 5 en 8) het so goed gedoen. Carien (7) het egter gedink dis ‘n reuse avontuur. Ek weet nie wat is erger nie, die kinders wat elke nou en dan benoud gesê het hulle wil huis toe gaan, of Carien wat reken dit is doodnormaal om in die veld tussen olifante te sit. Ek onthou hoe ek daar gestaan het en gewonder het of ons kinders enigsins besef watter enorme voorreg hulle nou ervaar… Want daar staan ons op die koppie in die veld… tien mense reg in die middel van ʼn trop van tenminste vyftig olifante.  

Dis winter en die son sak vroeg. Toe dit begin donker word moes ons terug stap bakkie toe. Rewald wag net vir die regte oomblik wat daar geen olifante in die onmiddellike omgewing is nie voor hy ons versigtig en baie stil terug lei na die kar (die keer met ʼn effense ompad). Veilig op die kar haal ons weer dieper asem, baie bewus van die voorreg wat ons sopas beleef het.

Daar is soveel plastiek Afrika-ervarings in die mark. Op die terugpad was ons stil, onder die indruk van Afrika en haar betowering. Rewald sê hy het al geleer wanneer ʼn mens in die veld stop om uit te klim en iets te bekyk, al is dit net ʼn interessante boom, of soos die klipkoppie vandag, jy baie meer waarde uit ʼn wildsrit kry as wanneer jy vir twee ure rondry op soek na die groot vyf. Daar is ʼn bekende aanhaling oor Afrika wat lui: “You know you are truly alive when you’re living among lions.” Maar ek het al geleer dis nie net die leeus nie, dit is ook iets soos díe met die olifante wat jou laat besef: dít is Afrika op haar beste.

Nambu Camp

Agent: African Retreats

Webwerf: nambucamp.co.za

Recommended Articles

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *