Ons ontspan tuis in die lekker weer. Laat Saterdagmiddag ry ons rigting Lecce. Na ons vinnig inkopies aangevul het, soek ons in die middestad parkering. Dit blyk aan die onmoontlike te grens. Na sowat vyf rondtes om die stad vind ons ‘n markplein met ‘n verbode parkering bord waar almal parkeer. Ons besluit om die kans te vat. Die stad is vir my regtig “spectacular” in die aand met verligting. Ek is mal oor die vibe en die eetplekkies in die nou stegies.
Lecce word ook die Florence van die suide genoem. Die hoofstad van Puglia maak dit ‘n gewilde toeristebestemming met sy barok argitektuur.
Ons eerste stop is Piazza Sant’Orinzo vir aperitivo by Cafe Alvino. Dit is een van die oudste kafee’s in die stad en is oorkant die ou Romeinse amfiteater. Die ou amfiteater is deur uitgrawings ontdek. Daar word vermoed dat daar nog interessante dinge onder die geboue om die plein is. Na drankies (Coca Cola vir my) soek ons ‘n eetplek en kom uiteindelik uit by Trumpet uit. Die een nadeel van ‘n stad wat so gewild is onder toeriste is die pryse in restaurante styg ook. Carien hou uit tot half 11, maar toe is sy behoorlik keelvol.





