Martano was seker een van díe mooiste dorpies in die binneland van Suid-Italië. Ek dink ek het tog Toskane en Noord-Italië bly soek in die suide. Maar dis anders in die suide, die suide is uniek. Ook armer, en uiteraard minder toeristies.
Maar Martano was ʼn pragtige dorpie met klein stegies. Malva’s blom op klein balkonne en hier en daar staan ʼn verlate fiets. Ek en Marius was dit eens, hier sou ons ʼn nag of twee kon spandeer. Ons was presies oor siesta-tyd hier, alles was dus gesluit.
Voor ons by Martano gedraai het, het ons kuslangs afgery na Santa Cesarea Terme. Daar het die Villa Sticchi wat uittroon oor die Mediterreense kus my verbeelding aangegryp. Die een oomblik ry jy nog rustig langs die kus, en die volgende oomblik steel díe kleurvolle villa jou aandag. Die villa getuig van die moorse invloed wat aan die Suid-Italiaanse kus geheers het.
In Santa Cesarea Terme drink ons cappuccino’s (dit was al ʼn rapsie net na 11, maar die eienaar het ons vergewe) op restaurant se balkon. Onder glinster die son in helder blou water en daar dobber ʼn paar bote en skepe in die water. Harald en Marius besluit sommer om vir ontbyt Prosecco (Italiaanse vonkelwyn) en gevulde croissants te geniet.
ʼn Paar foto’s van hierdie lekker dag:














