Otranto

You may have the universe, if I may have Italy – Giuseppe Verdi

Ostuni was liefde met die eerste oogopslag, maar Otranto… op Otranto het ek my hart verloor.

Dit was een van die grootste dorpe naby ons. Ons eerste ontmoeting was op ʼn stormagtige aand. Die golwe het teen die rotse aangeslaan waar ons beskut in ʼn restaurant gesit het wat op die strand uitkyk.

Ek het my lekkerste pizza van die vakansie geëet in ʼn restaurant in ʼn systraatjie iewers in die ou stad. Die derde keer het ek op my eie die ou stad ingevaar, oorgestimuleer deur die mooiheid en alles wat die vakansie meebring. Ek het die ou katedraal gaan soek waar die ryk geskiedenis van die stad uitgebeeld word.

Dit is die mees oostelike Italiaanse dorp op die vasteland en is reg teenoor Albanië geleë. Een van die grootste geskiedkundige gebeurtenisse was die Ottoman Inval in 1480 waar 800 Rooms Katolieke inwoners onthoof is. Die Turke het vir 13 maande oor die stad geregeer. Lees meer hier.

Die Katedraal dateer uit 1088. Die indrukwekkendste is die mosaïekvloer. Die bene en skedels van die 800 mense wat in die Ottoman inval gesterf het, is in glaskaste rondom die altaar, vreemd, maar baie indrukwekkend. Die kerk se grafkelder word deur 42 marmerpilare gesteun.

DSCN5327DSCN5328DSCN5337DSCN5332DSCN5330

Vir Carien was die lekkerste van dié dorp waarskynlik die groot speeltuin. Marius het baie geduldig elke keer met haar gaan speel. Ek vermoed deels omdat hy dit verkies bo dorpies en winkeltjies. Later toe hy vir my sê die Italiaanse vrouens is nie só mooi nie besef ek dat hy waarskynlik die enigste pa in die speeltuin was…

Die ou stad het die eerste aand in die donker soos ʼn fantasiedorp teen die kuslyn gelyk. Soos reisigers maar maak het ons buite die ou stad gaan eet ipv om daaraan te dink om die ou stad in te vaar. Maar van waar ons gesit het kon ons die ou stad aan die een kant en die vuurtoring en baai bekyk.

Hier kan ʼn mens ook natuurlik allerhande toeristiese produkte koop, H&T het egte puglia happies vir ons gekoop. Tipies H stap hy uit met gratis goed aangesien hy so lekker met die winkeleienaars gesels het. Ek het die egte puglia oortjies pasta, orriechette, hier gekoop en moet dit nog maak.

DSCN5338

DSCN5340 DSCN5199 DSCN5201 DSCN5202 DSCN5207 DSCN5210

Net buite die ou stad was ook díe gelateria (Bar gelateria pasticceria Martinucci) van ons vakansie. ʼn Geweldig moderne en mooi restaurant met gelato-torings opgestapel soos kunswerke. Carien kon haar oë nie glo nie.

Selfs met drie besoeke het ons nog nie die dorp ten volle verken nie. Maar van al die plekke wat ons in die hak van Italië besoek het staan Otranto beslis uit as een van die mooiste en lekkerste.

Recommended Articles

1 Comment

  1. Dankie Tanz, dis pragtig!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *