Pinkster Sondag
Ons het laat Saterdagmiddag ons bestemming vir die week bereik: ‘n huisie in die Toskaanse berge, sentraal vanaf Florence, Pisa, Lucca en Siena.
Vir die eerste keer in ‘n week het ons bietjie laatgeslaap. Dit was heerlik. Gelukkig is dit Sondag so ons kon rus.
10 en HH was af na die dorpie onder in die vallei om na ‘n motorwedren te kyk. Die Italianers is passievol oor karre en 10 en HH was verheug om agter te kom daar is ‘n resies in die dorp vir Veterane en Top Speed Cars. Verheug is eintlik die verkeerde woord. Hulle was ekstaties.
Uitsig vanaf ons huisie.
Ons huisie is in die berge en die omgewing is ‘n mengsel van Drakensberge en Sabie. Die berge is hoog en groot, maar die klimaat is presies soos ek dit al ‘n paar keer in Sabie ervaar het. Die mis, die sagte aanhoudende reen en die klam lug.
Ry jy af in die berge na die dorpies is dit weer snikheet. Ons het selfs die gasverwarming gisteraand aangesit. (Oom) Martin nou verstaan ek hoekom jy gesê het ek moet ‘n dik winterjas vir Italie inpak.
M was bly toe hy Sondagaand ‘n lekker vuur kon maak. Ons het ‘n paar ure lekker gesellig om die vuur gekuier. Ek het ‘n paar keer vir 10 gesê, moet ons nie gaan slaap nie. “Nou, ik vind dit veel te gezellig so.”
Skemer in die berge.

