Dit is interessant hoe vreemde paaie jou soms op die mees amazingste stories kan lei. Die soeke na ‘n wynplaas het ons na die wynplaas van Mona Lisa se pa gelei – en die wynplaas het ons weer na die beste pizza-bakker in Italië geneem.
HH wou ‘n wynplaas besoek. Ons was nie presies seker wat die Italiaans vir wynplaas is nie, en het ‘n bordjie gevolg na wat hy dog ‘n wynplaas is. Dit was toe eintlik ‘n gastehuis, maar die gaste daar verduidelik ons toe na die wynplaas Fattoria La Ripa, in die Chianti wyndistrik.
Die plaas was eintlik toe, maar die wynboer gee ons toe ‘n spesiale wynproe. Sy hele gesig het opgehelder toe hy hoor ek en M kom vanaf Suid-Afrika. Sy vrou kom van Stellenbosch, van ‘n plaas naby Groot Constantia en hyself het twee jaar in die laat sewentigs daar gewoon.
HH gesels met die wynboer.
Ons het tussen die wynproe deur gesels oor Suid-Afrika, wyne, en die konsep van wynmaak. Iets wat ons nie geweet het nie is dat nie enige Chianti wyn is regte Chianti wyn nie. Die regte wyn word eintlik Chianti Classico genoem. Mussolini het in die dertigjare besluit enige wynboer kan sy wyn Chianti wyn noem, met die gevolg dat die regte Chianti wynboere uit die distrik hul wyn toe Chianti Classico genoem het. Die Classico is ook aansienlik duurder as die gewone Chianti.
Dié wynplaas spog met ‘n baie ryk geskiedenis en is ook as ‘n nasionale erfenis verklaar aagesien die plaas vroeër aan Mona Lisa (ja, die regte ene wat in die skilderye is) se pa behoort het.
‘n Paar bottels wyn en ‘n hele paar Euro’s verder (die wynproe was die 5Euro per persoon!!!) stap ons daar uit. HH vra toe sommer ‘n verwysing na ‘n lekker Pizzeria. En daar sit die beste Pizza-bakker in Italië net een dorpie verder in San Donato.
Dit was die mooiste dorpie en die boonste dek van die restaurant (Il Ristorante Palazzo Pretorio) is op dorpie se stadsmure. Ons het dus letterlik op die stadsmure gesit en eet.
Giovanni, die pizza-bakker maak ‘n spesialiteit pizza met ‘n sterk kruie-slaaiblaar wat op die gaar pizza gestrooi word. (Ek het nou die naam vergeet). Hy is verlede jaar as die beste bakker in Italië gekroon.
Dit was regte ‘n interessante afsluiting op ‘n heerlike dag.
Florenze
Die oggend het ons na Florenze gegaan, ‘n stad wat bekend staan as dié kunste stad omdat hier so baie kunstenaars gewoon en gewerk het. Oral sit ook kunstenaars wat verf en teken.
Die hoeveelheid toeriste was egter oorweldigend en HH en M het na ‘n Ierse Pub (met ‘n piepklein balkon wat uitkyk op die stadsplein) gevlug terwyl ek en 10 na die bekende roomyswinkel Vivoli is om die bekende winkel se roomys te eet.

Watter roomys moet ons kies?
M en HH op die balkon.
Die Duomo vanuit die kloktoring.

Uitsig vanuit die kloktoring oor Florenze.
10 – die prinses wuif van haar balkon af. Ha Ha!
Florenze is ‘n baie mooi stad, ek sou graag wil terugkom op ‘n stiller toeriste-tyd om die stad te verken. Nou was dit amper onmoontlik. Die toue by die kerke en ou geboue was te lank, ek en M het vinnig by die kloktoring ingegaan tot bo (420 trappies), want daar was nie ‘n ry nie.
Die Ponte Vecchio was baie indrukwekkend. Die hele brug oor die Arno Rivier is vol juwelierswinkels. 10 se ogies het geblink. ek het gelag vir die (duur) pryse.

In die agtergrond kan julle ‘n idee kry van die hoeveelheid toeriste.
Nie die regte Dawid’s beeld nie, maar gits die rye was lank om in te gaan! Hierdie beeld is presies soos die regte een.
Sienna
Sienna was ons volgende stop vir die dag. Nog ‘n kunsdorpie in Toskane. Die dorpie is een van die meeste gewildste Italiaanse kunsdorpies en kry meer as 1 miljoen toeriste elke jaar.
Dit is baie mooi om te sien en die winkeltjies is so so oulik.

Sienna
‘n Winkelvenster in Sienna.
Uiteindelik op die terugpad (die een voor ons afgedraai het na die wynplaas) het ons Toskaanse landskappe gesien. Dit is werklik so mooi en as ek terug by die huis is gaan ek beslis ‘n Toskaanse landskap skilder vir my huis.
Oor die blog:
Hierdie blog ding vat nogal tyd! Eerstens moet ek al my foto’s uitsoek en kleiner maak. Ek skryf my stukkies voor die tyd, maar gaan dit weer oor vir tikfoute. Ek los vir eers die taal, want my taal is heeltemal deurmekaar omdat ek met die Hollanders moet praat. Ek praat van dicht en welke en los die tweede ontkenning in my sinne uit en wanneer ek skryf kan ek sien hoe my manier van praat my skryf beinvloed! Dit is nogal frustrerend. My sinskonstruksies val uitmekaar uit!
Boonop moet ek hier en daar my feite nagaan. En dit het nogal baie konsentrasie van M vereis om my internet op te stel, want die verduidelikings oor die telefoon was in Italiaans.
Maar dit is wel lekker om my vakansie so te dagboek.








