Na ‘n lui-lekker naweek het ons vroeg Maandagoggend die 50km na Pisa aangepak. 50 km van haarnaalddraaie deur die berge en stadig ry deur klein dorpies. Die Italiaanse dorpies lyk weer heeltemal anders as die Franse dorpies, alhoewel daar ooreenkomste is.

Die skewe toring van Pisa was ons eerste stop. Die toring was eens op ‘n tyd ‘n regop klok-toring vir die dorp se katedraal, maar het deur die eeue ingesak. In 1990 is die toring gesluit en die klokke uitgehaal om die gewig in die toring te verminder. Die toring is in 2001 weer oopgestel vir die publiek en onlangs heeltemal sonder stellasies. Alle vuil en graffiti is verwyder.
Ek vermoed dit is die rede vir die ontsaglik baie toeriste wat daar was. Baie meer as wat ek by die Eiffeltoring twee jaar terug gesien het. Dit was nogal oorweldigend en M het op ‘n bankie ver weg van die malende massas gaan sit.
Die tou om in die toring in te gaan is ook baie lank, maar ons het al voor die tyd besluit dat ons nie hoef in te gaan nie.
Al die toeriste poseer vir foto’s waar dit lyk asof hulle met hul hande die toring keer. Dit lyk nogal verspot van ‘n afstand, al die toeriste met hul hande in die lug.
Gelukkig vir ons was daar ‘n McDonalds onder die toring – ons goedkoop stapelvoedsel hier in Europa. Dit was nou wel nie die beste McD’s wat ek al geeet het nie…
Die inwoners kan Pisa kan baie dankbaar wees dat die toring nie gebou was om te hou nie. Die hoeveelheid geld wat handelaars, toergidse en die toerisme-bedryf in Pisa uit die skewe toringtjie maak is enorm.
Toerisme is ook die ekonomiese ruggraat van die sogenaamde kunsdorpe in Toskane, insluitend Pisa en Lucca.

Toeriste posseer voor die toring.

Massas toeriste besoek die toring.
Lucca – ‘n Italiaanse middeleeuse dorpie
Sowat 20 minute se ry vanaf die beroemde skewe toring, lê die dorpie Lucca. Ons het deur die dorpie gedrentel, winkeltjies besoek en ons verkyk aan die eeue-oue geboue.

‘n Winkelvenster in Lucca – ons was twee uur in die dorpie, alles was toe want winkels sluit tussen half 1 en half 4.

Piazza dell’Anfiteatro

Op die terugpad het ons nog by die Ponte Della Maddalena gestop.


