Pointe Aux Piments: idilliese wegbreek aan die Noord-Wes kus van Mauritius

“We travel because we need to, because distance and difference are the secret tonic of creativity. When we get home, home is still the same. But something in our mind has been changed, and that changes everything.”
–Jonah Lehrer, “Why We Travel,” Panorama Magazine (Deccember 2009)

Die water van die turkooisblou see klots-klots saggies teen die klippe. Die see spoeg stukkies koraal uit op die wit strand en ek kyk hoe die son wat sak die horison skouspelagtig verkleur. Om my bewonder mede-vakansiegangers ook die son wat sak, selfone en kamera’s (meestal selfone) kliek kliek om die mooi lug vas te vang. Sonbruin lywe posseer vir selfies en foto’s voor die rooi bal heeltemal in die see wegraak.

20170902_175322smaller

Mauritius is nie sonder rede ʼn gewilde vakansiebestemming, veral vir Suid-Afrikaners, nie. Díe tropiese eiland met palmbome, wit strande en blou-blou see is die perfekte idilliese eilandvakansie. Ek is nie meer seker hoe ons besluit het op Mauritius nie, maar dit was verseker nie ʼn verkeerde keuse nie.

M het intensief navorsing gaan doen om te besluit watter een van die vele oorde ons moet kies vir ons week in Mauritius. Uiteindelik het hy op die Victoria Beachcomber Hotel & Spa besluit omdat dit as een van die lekkerste bestemmings vir gesinne bestempel word op TripAdvisor. En dit was ook perfek vir ons twee gesinne (Vier volwassenes en vier kinders  van 4, 4, 3 en 2).

20170904_105336smaller1

Met die instap by die hotel staan ons verstom stil. M se eerste woorde: dit lyk net soos die advertensies. Dit is nie aldag dat ʼn plek die belofte van ʼn advertensie gestand doen nie, maar hierdie oord het meer as ons verwagtinge oortref. Baie moeg, voos en sweterig na ʼn moeilike vlug en nog moeiliker taxi-rit met ʼn moeilike tweejarige word ons om nege uur saans vriendelik verwelkom deur die personeel met vars welkomdrankies. Die restaurant was nog oop en ons kon gelukkig nog aansit vir aandete.

Mauritius is nie sonder rede ʼn gewilde vakansiebestemming nie.

20170831_153706_smaller

Vir die volgende week leef ons luilekker. Ons dae verval in ʼn gemaklike vakansiepatroon: na ontbyt verskuif ons strand toe waar die kinders in die vlak water speel, sandkastele bou en die son geniet. Soms gaan ons uit op die trapbote, van ons waag dit op die waterski’s (maar oorskat dalk sy vermoëns so effens?) of ons lê net op die strandstoele en lees. Ons kamers, lekker ver van die swembad en groot restaurant, is stil en slegs so 50 tree van die strand af. ʼn Lowergroen grasperk met palmbome en talle voëls lê tussen ons die strand. En na middagete vat ons ʼn kort middagslapie waarna ons swembad toe skuif waar die kinders verder in die water baljaar. Die laatmiddag son blink op die water terwyl en hier en daar dobber seilbote of trap mense nog ʼn trapboot vir oulaas voor die dag groet. In die golden hour geniet ons skemerkelkies (nie noodwendig die eerstes vir die dag nie) terwyl ons kyk vir die son wat sak. Natuurlik neem ons foto’s na hartelus van die skouspelagtige lug oor die westelike oseaan. Daar word van jou verwag om netjies aan te trek vir aandete, so elke aand doen ons moeite om netjies aan te trek en mooi te lyk. Selfs die kinders se hare word gekam en “grand” klere word aangetrek.

Een van ons reisgenote verwys spottenderwys dat dit amper soos ʼn uitbreiding van Durban is met al die mede-Suid-Afrikaners wat ons raakloop. Maar ek sou Mauritius beslis aanbeveel. Was dit duur? Beslis. Maar ons het herinneringe saam ons kinders en vriende gemaak wat geen geld kan koop nie.

Hoekom ek “all inclusive” vir ʼn familievakansie sal aanbeveel.

All inclusive (AI) beteken alles is in ingesluit. Daar is enkele uitsonderings soos baie duur wyn/drank of iets soos kreef. Kinders het die geneigdheid om te wil eet wanneer dit nie etenstyd is nie. Met AI was ons verseker daarvan daar is altyd kos beskikbaar vir die kids. Van 07:00 tot 10:00 was ontbyt, van 10:00 tot laatmiddag kon ons broodjies bestel. Middagete van 12:30 af. Vanaf 16:00 kon ons pannekoeke bestel tot dit tyd was vir aandete. My 2 jarige het ʼn paar keer geslaap tydens etes, maar ek kon later net vir haar ʼn bordjie chips of ʼn broodjie / pannekoek bestel. Die kids kon ook soms nie hou tot aandete 7pm nie so die 5h pannekoeke het handig te pas gekom.

As jy nie kinders het nie en jy drink nie baie nie kan mens seker die ander pakkette oorweeg.

Maar ons is lief vir ons glas wyn (of drie) en natuurlik wil die kids heeldag koeldrank of water drink. Met AI is die gebottelde water ingesluit en die kids kon enige tyd ʼn vrugtesap bestel. Al ons drank was ingesluit, en die pryse wat die drank kos wanneer jy nie op die AI pakket is nie, is skrikwekkend.

Met kinders sou ek geen ander opsie oorweeg nie.

Enkele ander opmerkings oor die oord self:

  • Ons het ʼn kamer ver weg van die swembad en ontvangs/ onthaalarea versoek, dit was ʼn goeie besluit. Die kamer was baie stil en die stilte was vir my soms baie welkom.
  • Die chefs en restaurantpersoneel het uit hul pad gegaan om my gluten-intoleransie tegemoet te kom.
  • Ons gunsteling restaurant was Le Horizon. Dit was net om die hoek van ons kamer met ʼn lieflike uitsig oor die see. Jy moet vir aandete vooraf bespreek.
  • Ons het probeer om die Kids Club te gebruik, maar die kinders het verkies om lekker met hul ouers vakansie te hou, en tereg.
  • Die twee winkels in die oord is nogal duur, maar daar is elke aand uitstallers wat verskillende souvenirs en goedere kom uitstal en verkoop. Daar is ook smouse wat op die strand oulike goed verkoop.

Recommended Articles

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *