Gouda: dorp van kaas en stroop

Ons het die dorpie Gouda saam met H+T en my oom en sy vrou en hulle twee kiddies verken. Na ‘n heerlike bakkie koffie tuis by hulle val ons gestewel en gespoor vir die nat weer in die pad.
Gouda is bekend  kaas, kerse en stroopwafels, dit klink vir my soos die dorp van melk en heuning. behalwe in die geval kaas en stroop.

Stadshuis in Gouda

In Nederland is daar sogenaamde Bruin Cafe’s – dit word so genoem as gevolg van die merke wat die kerse teen die muur maak. Deesdae is die kerse meer vir geselligheid en atmosfeer. Volgens my reisboek, ja ek is alweer een van daai toeriste met ‘n lonely planet boek in die een hand en my kamera in die ander hand, is Gouda een van die grootste verskaffers van die kerse vir die bruine cafe’s gewees.
Gouda is ‘n pragtige dorpie met mooi straatjies. Tussen die gewelgeboue hang groot blokke kaas aan lyne. Ons eerste stop was ook dus ‘n kaaswinkel, oftewel ‘n kaasboer. Oral tussen die kase staan bakkies met proe-kassies sodat jy kan proe wat vir jou lekker is. Die kaasboer moes dit weer opvul nadat ons daar uit is.
My ma vra my of ek asb vir haar kan uitkyk vir ‘n kaasskaaf aangesien haar skaaf spoorloos verdwyn het. Haar enigste versoek is dit moet asb net dun plakkies kaas kan skaaf.  Ek vra Harald se hulp: “Ja, wat dink jy? Dit is Nederland, die kaasskawe sny NET dun plakkies vir die suinige Hollanders”.
Die kaasboer in Maassluis se skawe was uitverkoop en ek het gehoop ons gaan een vind in Gouda. En jip, rye vol kaasskawe. Boonop het die kassiere dit mooi toegedraai met hollandse lint toe sy hoor dis ‘n geskenk.
Marius het ‘n blok kaas gekoop om verder aan te peusel. Terwyl die vroutjie dit vir hom toedraai deel die kaasboer nog kaas vir ons uit.
Ons loop ‘n verdere draai deur die dorp, verby die stadshuis, die St Jans katedraal en Jerusalem Kapel. Die St Jans Katedraal het blykbaar verskrikklike mooi glasvensters in die kerk en elkeen het ‘n spesifieke storie. Maar jy moet toegang betaal en as ‘n mens by elke museum moet betaal raak dit duur, so ons het maar net van buite af geloer. Die kaasmuseum vra ook ingang en ek het gehoor hoe die een kassier vir die ander een se: nou success, ek het nog net een kaartjie vandag verkoop.
Na die heerlike kaas en rondwandeling besluit ons om op ‘n koppie koffie met ‘n stukkie gebak te eet. Met die inkomslag in die dorpie het ons ‘n koffiewinkeltjie gesien wat koffie met speculaas vir 2€ verkoop. Heerlik. Tot ons agterkom (toe dit bedien word) dis nie koffie met ‘n stukkie speculaas nie, maar speculaaskoffie!  Oh well, dit proe wel lekker.
Dit was ‘ n gesellige oggend, dankie aan Martin + Patricia + kids vir die saamkuier.

Recommended Articles

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *