Ontbyt in Tamboerskloof

As ek kon kies om vir ‘n maand of twee in ‘n voorstad van Kaapstad self te woon sal ek waarskynlik Tamboerskloof kies. Die woonbuurt lê aan die hange van Leeukop en Seinheuwel, langs die Bo-Kaap en Tuine.

Dit lyk altyd vir my so lekker om hier te woon, anders as ʼn gewone woonbuurt. Tamboerskloof het ‘n baie ryk geskiedenis. Dit was oorspronklik ‘n plaas wat met slawe-arbeid aan die gang gehou is. Soos wat Kaapstad uitgebrei het, is die plaas opgedeel in erwe. Vandag is die nou en steil strate met kenmerkende twee en drie verdieping Victoriaanse huisies ‘n gewilde toeriste aantreklikheid. Die strate word hier en daar deur nou stegies verbind. Ek het opgelees dat baie van die Victoriaanse huise deur soldate gebou is nadat hulle van die Anglo-Boere oorlog in 1905 teruggekeer het. Iets wat my oog gevang het toe ek deur die buurt se nou strate gery het met my huurkar wat meer soos ʼn grassnyers as ʼn kar geklink het) was die Art Deco woonstelblokke. Ek het nogal gewonder oor die woonstelblokke, en uitgevind die woonstelle is in die 1930’s gebou.

Tamboerskloof is naby die woelige Long- en Kloofstrate. Die is twee gewilde kuier en winkelstrate in Kaapstad. Jy kan saans tussen die winkels en restaurante drentel en die Kaapse naglewe beleef. Bedags is daar ook heelwat interessante winkels om te gaan besoek. Gaan maak ʼn draai by die eklektiese klere-winkels, historiese horlosiewinkel of drink ʼn cortado of cappuccino by ʼn straatkafee.

Ek het ontbyt gaan eet by die historiese Blue Cafe. As jy op ʼn naweek-oggend laat opdaag gaan jy toustaan vir ʼn tafel in die straatkafee wat al meer as honderd jaar oud is.

Die historiese kafee was in 1904 gestig as ‘n bymekaarkomplek en tram-stop vir die plaaslike inwoners.

Ek het eintlik nie besef die kafee het so ʼn ryk geskiedenis nie, en ek is mos mal oor geskiedenis. In die sewentig-, tagtig-, en negentigerjare van die vorige eeu was dit bekend as die Blou Kafee. Die rede vir die naam? Die mure was blykbaar meestal poeierblou geverf. Interessant is dat nog al die jare woon die eienaars of bestuurders van die kafee ook in die huis agter die kafee. Dit was op ʼn stadium ook bekend as die Daily Deli.

Ek het net ʼn oggend in Tamboerskloof spandeer, volgende keer wil ek graag vir ʼn naweek hier in ʼn AirBnB kom oornag sodat ek die historiese woonbuurt behoorlik kan verken.

Recommended Articles

1 Comment

  1. Henry Lansdown

    Pragtige artikel en fotos

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *