Buckler’s Africa Lodge by BON Hotels: ‘n juweel in die Laeveld

Laatmiddag in die laeveld… dit is een van my gunsteling tye. Dit is wanneer die son die gras in die veld goud kleur en die bosveld op sy mooiste is. Ons sit op die dek van luukse Buckler’s Africa Lodge, deel van die BON Hotels-groep, op die oewer van die Krokodilrivier. Links van ons in die rivier lê seekoeie en blink in die rivier en voor ons in die water slenter waterbokke stadig tot in die sand-eiland van die rivier. Agter ons speel ons kinders op die gras.

Gewoonlik wanneer ons die Krugerwildtuin besoek bly ons binne-in die wildtuin in een van die kampe, hetsy in ‘n karavaan of in ‘n eenvoudige chalet. Aangesien ons tans op soek is na ‘n nuwe, groter karavaan het ons Buckler’s Africa Lodge se uitnodiging aanvaar om vir twee nagte hier te kom oorbly.

Ons reis vanaf Hoedspruit (waar ons reeds voor die onlangse vlak 4 grendelstaat-inperking was) deur die Krugerwildtuin tot by die lodge. Die maklike pad sou seker buite om die wildtuin gewees het, maar ons kies die lekker pad, in by die Orpenhek via Satara en Onder-Sabie ruskampe na Krokodilbrughek. Dit was ‘n halwe dag se reis, maar beslis die moeite werd. Vanaf die Krokodilbrug-hek is dit letterlik sowat agt minute se ry om by Buckler’s Africa Lodge se ingang in te ry. Dit maak dit lekker naby sodat jy daguitstappies na die wildtuin kan onderneem, of nog beter, om saam met die lodge self op een van hulle wildsritte te gaan. Indien jy vanuit Gauteng ry is dit net bietjie meer as vier en ‘n half ure se ry tot by Buckler’s Africa Lodge.

Die personeel ontvang ons met ope arms en hulle vriendelike en opregte verwelkoming stel ons sommer dadelik op ons gemak. Kyk, ek weet mos, ‘n hotel met kinders is nie aldag ‘n grap nie. Maar Carien en Linelle word albei met ope arms verwelkom en ons is dankbaar vir ‘n grondvloereenheid met deure wat oopgly na die groot tuin en ‘n uitsig oor die dek en rivier. Al die eenhede het ‘n uitsig oor die rivier en in die wildtuin aan die oorkant.

‘n Bonus vir my was die groot badkamer met ‘n ruim stort. Dit gebeur so baie dat hotelle die badkamers afskeep en jy met jou gesin ‘n piepklein-hokkie badkamer moet deel. En jy kan nie dit ‘n luukse hotel noem en dan is daar ‘n hokkie vir ‘n badkamer nie. Hier is genoeg ruimte om te kan asemhaal. Daar is ook ‘n lekker ronde tafel en stoele in die eetkamer waar ons as ‘n gesin speletjies kon speel.

Ons het die Patrol vinnig afgepak sodat ons op die dek kon gaan sit en ontspan. Iets waarna ons die hele dag al uitgesien het. Buckler’s bedien nie self alkohol nie, maar jy is welkom om jou eie drank saam te bring. Ek het al net na die vlak-4 inperkings twee bottels wyn gespaar vir díe twee aande langs die Krokodilrivier.  Die personeel het vir ons ‘n emmer vol ys gebring om die witwyn koud te hou en ons kon agteroor sit en ontspan. Die kinders het gaan speel, en wanneer hulle nie op die gras agter ons was nie, was hulle in die eenheid, wat ons van die dek af kon dophou.

Ons het die leeus dopgehou tot dit te donker was om verder te sien.

Sarah vertel vir my hoe hulle soms leeus opmerk oorkant die rivier. Ek het geweet dis moontlik, maar het besluit om nie my hoop op dit te plaas nie. Maar sowaar, net toe die son begin sak roep die ander gaste ons – daar is leeus! Hulle het gesien hoe die waterbokke vries en skielik baie waaksaam lyk en dit is toe dat hulle die leeus op die oorkantste wal opmerk. Ons het die leeus dopgehou tot dit te donker was om verder te kyk en toe hardop saam met die ander gaste gewonder of daar in die nag ‘n vangs sal wees. Helaas, dit het nie gebeur nie, maar ‘n week na ons verblyf was daar wel ‘n leeu wat ‘n vlakvark gevang het op die oewer – gelukkige gaste!

Dis die platteland, maar die sjef kook vir fynproewers

Vir ‘n ma is daar niks so lekker soos wanneer sy vir ‘n slag nie hoef kos te maak nie. (Alhoewel ek mal is daaroor om te kook, maar ‘n af-aand of twee pure bederf!). Ons kon tussen ‘n vasgestelde driegang spyskaart, of van die gewone spyskaart kies. Hier kan ek in alle eerlikheid sê, die kos is ongelooflik lekker. Carien (8) was in haar noppies toe sy geroosterde murgbeen kon bestel (iets wat ek beslis nog nie tuis gemaak het nie). Marius het ʼn rump steak bestel (perfek gaargemaak) en ek was mal oor my gevulde inkvis gereg. Ek sal letterlik net vir daai gereg weer terugkom.

Hotelle moet aanhoudend improviseer vir oorlewing onder inperkingsmaatreëls. So ook wanneer restaurante gesluit word deur die regering. Miguel Farinha, hoofbestuurder, vertel hoe hulle gewoonlik saans die tafels in die restaurant met mooi tafeldoeke dek met lanterns wat blink in die aandlig (en lug) en gaste wat gesellig saam eet (met sosiale afstand) in die restaurant. Maar hul alternatief was ewe goed: gaste se tafels word baie mooi gedek op die balkon of stoep wat voor hul eenheid is. Gaste mag, indien hulle so verkies, self op die voorste dek gaan sit en eet. En heelwat gaste het dit ook so verkies vir ontbyt.

Naas laatmiddag in die laeveld is ek een van daai mense wat elke oggend die son moet sien opkom in die bosveld. Lank voor die ander gaste wakker was, het ek en Carien al diere in die rivier gesoek terwyl die son opkom in die ooste. Die personeel was ook skaars wakker toe ek al gaan aanklop vir ‘n oggend cappuccino (daar is ook espresso-masjiene in elke eenheid met kapsules, asook gewone koffie, maar daar is niks soos ʼn oggend-cappucino nie). Ontbyt was weer ‘n groot bederf. Vir my kinders was die eenvoudige roereier en ‘’macon’’ presies wat hulle wou gehad het, vir my man geposjeerde eiers en vir my gebakte eiers.

Ek en die meisies ry na ontbyt uit na die naaste dorp, Komatipoort, om die omgewing te verken. Dit is sowat tien minute se ry en ek wou ‘n paar goedjies kry vir ons terugpad huis toe die volgende dag. Ek vertel hulle een of twee dinge oor die geskiedenes van Komatipoort en die belangrike rol wat Komatipoort gespeel het in die geskiedenis as ‘n stop punt vir die spoorlyn tussen Johannesburg en die destydse Lourenço Marques, vandag Maputo. Ja, my arme kinders kry altyd ‘n goeie skeut geskiedenis en ander opvoedkundige feite saam met enige reis. Ek wys ook vir hulle die grenspos en vertel dat dit die plek is waar jy deurgaan as jy Mosambiek wil besoek. Vandag is Komatipoort steeds ‘n tipe poort na Mosambiek. ‘n Ware Afrika-dorp met selfs Mosambiekse cuisine restaurante.

‘n Spa-bederf terwyl jy die seekoeie hoor speel

Ons hoofplanne vir die dag was om die lodge se spa, Baobab spa, te gaan besoek en om ‘n laatmiddag wildsrit te maak. Ek en Marius het albei ‘n massering bespreek, en omdat dit skoolvakansie is, het ek ingestem dat die meisies ‘n kiddies pedicure mag kry. Baobab Spa het baie oulike pakkette vir kinders van alle ouderdomme. En die spa se pryse is werklik baie kompeterend. Ons het al gevind dat spa’s by hotelle buitensporig duur is, maar Baobab is beslis bekostigbaar. Carien en Linelle het soos twee prinsesse hulle pedi’s geniet. Ek was nogal spyt ek het nie self ‘n pedikuur bespreek nie, want die spa is op die tweede verdieping wat’n baie goeie uitsig oor die rivier en veld het. Na die kinders se pedi’s het ons masserings aan die beurt gekom. Wat ‘n salige uur om daar te lê en so nou en dan die seekoeie te hoor speel. Ek is bly ons het gekies om die spa te besoek. Moenie Buckler’s Africa besoek sonder om die spa te besoek nie. En selfs al gaan jy nie hier oorslaap nie, bespreek vir jouself ‘n bederf – jy gaan nie spyt wees nie.

‘n Klipgooi van die wildtuin

Net na drie die middag vertrek ons vir ons wildsrit deur die wildtuin. Indien jy nog nooit in die wildtuin was nie sou ek beslis aanbeveel dat jy saam met een van die lodge se gidse ‘n wildsrit onderneem. Vir ons wildtuin-freaks was ‘n selfryrit wat ons wou doen. Agt minute later is ons by Krokodilbrug se hek, en ons teken vinnig in as dagbesoekers (gratis met ‘n wild card, daar is uiteraard ‘n fooi as jy nie wild card het nie). Die omgewing tussen Krokodilbrughek en ruskamp tot by Onder-Sabie ruskamp is ‘n baie gewilde omgewing vir wildkyk, veral met die S28 grondpad wat op kronkel na Onder Sabie en die H4-2 teerpad wat die sirkelroete weer terugneem na Krokodilbrug. Dit word ‘n heerlike twee ure. ‘n Luiperd oor die pad, olifante wat stoei, ‘n sebra sonder ʼn stert (sowaar!) en selfs ‘n jakkals net voor ons weer uit ry.

My grootste bederf die laaste oggend van ons verblyf (voor ek my cappucino kon bestel) was ‘n nonnetjies-uil wat in die groot koorsboom gesit het. Nog ‘n rede hoekom ek vroeg opstaan: jy sien diere wat jy andersins nie sou gesien het nie. Op die einde van ons verblyf het ons ‘n hele lysie van diere gehad wat ons van die dek af gesien het: leeus, kameelperde, waterbokke, krokodil, rooibokke, ‘n rock lizard en baie baie voëls (dit is ‘n voëlkykersparadys!).

Ons twee nagte by Buckler’s Africa Lodge by BON Hotels was suiwer bederf. Die personeel was vriendelik, opreg en jy kan sien hulle dra die hotel en die gaste se belange op hul hart. Soggens vroeg word gaste persoonlik gegroet en hulle maak seker hulle gaste is gemaklik en geniet die verblyf. Die laaste aand het ons ook gesien hoe hulle moeilike gaste met absolute grasie en respek hanteer.

Toe ons uitry huis toe vra Linelle, “Mamma, hoeveel slapies voor ons weer kom?” En dit dink ek is ons hele verblyf in een sin opgesom. 

Nog ‘n paar interessante feite:

  • Daar is 24uur sekuriteit by die lodge, snags is daar ʼn nagwag wat al om die kamp stap.
  • Selfsorggaste kry ʼn sak hout en aanstekers by aankoms en daar is ʼn braai by elke eenheid.
  • Daar is 16 eenhede wat wissel van twee tot vier persoon eenhede.
  • Die eenhede is so gebou dat dit genoegsame privaatheid bied vir gaste om op hul stoep te sit en kuier.
  • Daar is ʼn fantastiese swembad, wat baie lekker sal wees in die somer, met heerlike dekstoele en skoon handdoeke wat regstaan vir gaste om te kan geniet.
  • Die bed se matras asook die beddegoed en handdoeke is baie goeie kwaliteit.
  • Bring ekstra espresso-kapsules vir jouself, daar is ʼn masjien in elke eenheid.
  • Bespreek dalk jou spa-bederf vooraf om seker te maak daar is plek.
  • Die restaurant voorsien vir meeste kos en eet-voorkeure (soos in my geval, ek eet glutenvry, maar daar was meer as genoeg kos).
  • Daar is gratis WiFi.

Recommended Articles

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *