Provence: beter as die poskaarte

Na drie dae in die pragtige middeleeuse dorpie Vence reis ons na Avignon, in die platteland. Iets wat ek vergeet het is dat afstande in Europa anders is as afstande in Suid-Afrika. Die twee plekke is sowat 250 km uitmekaar en daar is twee opsies vir die rit: via die kus, of deur die binneland.

Ons kies die rit deur die binneland. Tien ure later, baie bergpasse, bietjie verdwaal en ‘n klein bietjie baklei (ek het mos gesê ons moet ‘n GPS huur), kom ons uiteindelik by ons bestemming uit. Die padkaarte saamgeflans uit brosjures van toerisme-kantore en die kaarte uit my Lonely Planet reisboek.
Die taal bly ‘n redelike uitdaging alhoewel ons al ‘n hele paar woorde en frases opgetel het. Handgebare en eenvoudige woorde help ons baie. Marius het my vanmiddag tot 10 leer tel in Frans, iets wat hy in Graad 11 in Addisionele Wiskunde geleer het. Wys jou net hoe dit wat jy op skool geleer het, nuttig raak.

Die gastehuis-eienaar in Vence het die Gorges du Verdon op die binnelandse roete vir ons aanbeveel. Daar word na die canyon as die Grand Canyon du Verdon verwys. Met rede. Dit is geweldig indrukwekkend.
Dink Blyderivier-Canyon, maar baie baie groter. My mond het oopgehang oor die enorme kolkgate hoog, hoog teen die kranse op.
By die uitkykpunte het ons weer baie Nederlanders en Duitsers raakgeloop. Ons kan sien hoe die mense kopkrap oor waar ons vandaan kom, meeste toeriste word verklap deur hul nommerplate, maar met die huurmotor se Frankryk nommerplaat kan hulle nie ons ‘vreemde’ taal eien nie.

Ek gaan more bietjie foto’s oplaai, ironies genoeg het ons nie ‘n adaptor vir die netbook se kragkabel nie en ek het reeds al my foto’s daarop gelaai. So much for being gadget-freaks!

Die volgende twee nagte slaap ons in ‘n pragtige gastehuis in Avignon.

Recommended Articles

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *